RIVERSDAL NUUS - Die jaarlikse Droom-basaar bied vanjaar nie net lekker eetgoed en gesellige kuiergeleenthede nie, maar wil ook help om die lewe vir verswakte bejaardes by Huis Jan Lange aansienlik makliker te maak.
Die organisasie hoop om fondse in te samel vir die bou van 'n rolstoel- en ambulansoprit wat inwoners veilig tussen verdiepings sal kan vervoer.
Volgens Chris Veldsman, uitvoerende bestuurder van Droom, het die behoeftes by Jan Lange oor die jare verander namate die fasiliteit ontwikkel het tot 'n ouetehuis waar meer inwoners verswakte sorg benodig.
Die organisasie beoog om 'n siekeboeg met 'n oprit vanaf die grondvloer na die eerste verdieping te bou.
Dit sal dit moontlik maak om rolstoelgebruikers en pasiënte op ambulansdraers veilig tussen die verdiepings te vervoer.
Veldsman sê die planne vir die projek is reeds opgestel en bouwerk kan begin sodra die nodige fondse, na raming R700 000, beskikbaar is.
Die oprit moet aan internasionale standaarde voldoen.
Die gemeenskap word genooi om die Droom-basaar op Vrydag 31 Julie by die burgersentrum in Riversdal te ondersteun.
Die basaar duur van 10:00 tot 14:00, terwyl voorafverkope op 29 Julie van 08:00 tot 12:00 by die Droomsaal plaasvind.
Besoekers kan uitsien na 'n groot verskeidenheid eetgoed, waaronder pannekoek, kerrie-en-rys, worsbroodjies met smoor, boepensbroodjies, vleis, groente en vrugte, poeding, sop, skyfies, asook koffie en tee.
"Ons nooi die gemeenskap om hierdie dag saam met ons te geniet en terselfdertyd 'n betekenisvolle verskil in die lewe van ons bejaardes te maak," sê Veldsman.
Mense wat nie die basaar kan bywoon nie, maar steeds die projek wil ondersteun, kan 'n donasie maak of voorafbestellings plaas deur die kantoor te skakel by 028 713 2526.
Droom is 'n niewinsgewende organisasie (NWO) en artikel 18A-belastingsertifikate kan vir kwalifiserende donasies uitgereik word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’