HEIDELBERG NUUS - 'n Intensiewe soektog is hier geloods nadat vier mans wat in die plaaslike polisieselle in aanhouding was, verlede Donderdagaand 21 Maart ontsnap het.Die vier het vermoedelik rondom 21:00 ontsnap.
Die dorp het omtrent gegons en word daar bespiegel of daar dalk nalatigheid betrokke was.
Die vier verdagtes tussen die ouderdom van 20 en 46 staar almal aanklagte van ontsnapping uit polisie aanhouding in die gesig.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse mediabeampte, het die voorlopige ondersoek aangedui dat personeel van ’n sekuriteitsmaatskappy op ’n manspersoon met ’n erg beseerde been in Van Riebeeckstraat afgekom het. Dit is aan die polisie deurgegee waar daar toe ontdek is dat die vier persone ontsnap het.
Die beseerde verdagte is na die hospitaal op Riversdal vervoer waar hy opgeneem en vir sy beserings behandel is.
Twee van die ander ontsnaptes is later weer tydens 'n soektog in hegtenis geneem, terwyl die vierde een eers Saterdag opgespoor en in hegtenis geneem is.
Die drie verdagtes wat ontsnap het, het Maandag vlugtig in die hof verskyn, waarvan die twee van 20 en 39 jaar onderskeidelik, se saak tot Maandag 8 April uitgestel is.
Die ander 34-jarige se saak is tot 23 April uitgestel.
Hulle al drie bly in aanhouding in Buffeljagsrivier.
Die vierde verdagte het nie in die hof verskyn nie aangesien hy tydens die ander se hofverskyning nog gehospitaliseer was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’