HEIDELBERG NUUS - Donderdag 19 September word feesgangers met vier uiteenlopende aanbiedinge by die Hessequa-harmoniefees in Heidelberg bederf.
Kry letterkundige pitkos om 09:00 by die Doornboom-opstal (Fouriehuis), wanneer die gevierde digter en musiekkenner Danie Marais met die gewilde RSG-omroeper Haidee Muller-Isaacs oor sy jongste digbundel Ek en jy bestaan nie gesels - terwyl jy 'n ligte ontbyt kan nuttig.
Terwyl jy daar is, kan jy ook gerus inloer by die kunstenaars Marilise Lombard (Riversdal, The Schack)) en Anita McLaughlin (Stilbaai, Art Retreat) se ekspressionistiese uitstalling Forté: fragmente van die waarheid.
Diegene wat ná daardie gewaarwording met hul menswees worstel en/of hul bestaanswaarde begryp, word genooi om halftwaalf by Proeviand na die bottel te gryp. Want dan versnit ons musiek met wyn tydens die leefstylproduksie Vino & Viola.
Feesgangers word verlei deur wêreldmusiek - vertolk deur Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Elna van der Merwe (klavier). Natuurlik kan jy ook aan die land se beste Pinotage-wyn proe, tussendeur...
(Helaas: dié vertoning is pas uitverkoop!)
Sesuur die aand sluit Zanta Hofmeyr (viool) en Susan Mouton hulle by hul kwartet-musici aan vir nóg 'n vurige, klassieke musiekjuweel - Rachmaninoff-rendezvous - in die stadsaal.
En dan is dit tyd vir patos, wanneer die Silwerskermfees-bekroonde aktrise Desiré Gardner die geliefde TV-karakter Magda Louw word in haar solo-produksie agtuur die aand by die NG Kerksaal. Jy sal spontaan skater, maar ook beskeie 'n traan wegpink – voordat jy daarna elders voort kan kuier!
Die fees duur tot Saterdag 21 September.
Program
Kyk na die volledige program vir Hessequa-Harmonie (17 tot 21 September) by www.hessequaharmonie.co.za of kontak Lindi-Heila Smit by lindi.heila@gmail.com / 084 446 3200 om die program via e-pos of WhatsApp te ontvang.
Kaartjies is aanlyn by webtickets.co.za en by Karee Tree in Heidelberg beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’