HEIDELBERG NUUS - Dit was gister, Saterdag 22 Augustus, behoorlik ’n drieëfees hier op dié dorp, toe die twee bulspanne, Heibi en Grootbrakrivier, mekaar die stryd in hul tweedelaaste SWDRU Superliga Top-8-wedstryd aangesê het.
Die besoekers het die wedstryd met 56 - 42 gewen nadat hulle rustyd met 35 - 28 voorgeloop het.
Daar is 14 keer agter die doellyn gekuier, waarvan Grootbrak agt en Heibi ses drieë aangeteken het.
Heibi se vlugvoetige regtervleuel, Gershom van Rooyen, het vir die tweede keer dié seisoen ’n driekuns aangeteken, terwyl McNeil Matthews, Brak se rateltaaie agsteman, ook twee keer gaan druk het.
In die twee voorwedstryde het Brak se derdespan met 18 - 15 gewen, terwyl Heibi se tweedespan met 22 - 15 koning gekraai het.
Heibi speel volgende Saterdag hul laaste wedstryd weer tuis teen die verdedigende kampioene, Evergreens van Pacaltsdorp, en sal alles moet uithaal om met die louere weg te stap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’