HESSEQUA NUUS - Elkeen beleef die nasionale inperkingstyd anders - en tog is dit ook nie so verskillend nie.
Met twee derdes van die 21 dae verby het Suid-Kaap Forum mense oor 'n wye spektrum uitgevra oor hul ervaring van 'n grendelstaat.
Jonk of oud, werkend of afgetree - die gemene deler bly op die ou end kontak met medemense en geliefdes.
'n Stilbaaier wat aan 'n aktiewe leefstyl as buurtwagkoördineerder gewoond is, is Pieter Lategan. Hy sê:"Ek mis die persoonlike kontak met Stilbaai se mense, die gesels in die winkels en die groet gedurende buurtwagpatrollies."
Die afgetrede egpaar Pauline en Tommy Hollis vind ook die afsondering van geliefdes moeilik: "Ek kan nie my kinders nooi om hier te kom eet en hulle bederf met lekkernye om huis toe te neem nie. Ons het al die tyd in die wêreld, maar geen kuiertjies is moontlik nie. Ons kan nie eers na inkopies by die strand gaan sit nie."
Pauline en Tommy Hollis
Emma Heynse wat by 'n apteek op die dorp werk, sê inperking het nie veel effek op haar lewe nie: "Ek is die enigste een wat by die huis mag uitgaan, so al die inkopies kom nou maar net op my af."
Emma Heynse
Die onsekerheid vir besighede is vir JC Janse van Rensburg die ergste: "Mens wonder wat die toekoms vir Stilbaai en sy sakelui inhou, maar ook vir die hele land se ekonomie."
JC Janse van Rensburg
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'