RIVERSDAL NUUS - Inwoners van dié dorp kan gerus wees: dit is nie 'n plaag monstermolle wat die sakekern omdolwe nie.
Daar word ook nie loopgrawe en skuilings in die aanloop van die komende verkiesing gegrawe nie, al lyk die strate - Mitchell, Dickson en Barry - wat met gevaarlinte afgekordon is, soos ‘n oorlogsone.
Al die strate is via Kerkstraat toeganklik. Gevolglik lyk dit of die moederkerk deur grafte omring word.
Gedeeltes van dié strate word oopgemoker met ‘n beplande einddoel.
Die Hessequa-munisipaliteit het aan Suid-Kaap FORUM bevestig die hoofdoel van die projek is om ondergrondse elektriese kabels te installeer, oorhoofse netwerke te vervang en die bestaande netwerk te versterk.
Daar sal nog tot die einde van Maart gewerskaf word. Die munisipaliteit beoog om die reuse-projek in die dorpsgebied teen 30 Maart 2024 te voltooi, onderhewig aan weerstoestande.
Tot dan sal mense wat die sake-ondernemings (wat ‘n restaurant, ‘n kuierplek, ‘n haarkapper, selfoon-ondersteunig, sekerheid-gemoedsrus en, veral, ‘n apteek insluit) in daardie strate wil besoek, maar geduldig moet wees met die gepaardgaande ontwrigting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’