Update
RIVERSDAL NUUS - Diewe het amper die nasionale danskompetisie ontwrig wat nou in dié dorp aangebied word.
Die danskompetisie wat deur die Intergrated Artistic Acrobatic Association of South Afrika aangebied en onderskryf word, het Maandag in die burgersentrum begin.
Anwyn's Acro Dance Academy (AADA) is die gasheer.
Toe die organiseerders Dinsdagoggend daar aankom, het hulle onmiddellik onraad bespeur. "Ons het agtergekom 'n paar goed is weg.
"Terwyl ons geskarrel het om dit op te spoor, het al hoe meer van die afrigters laat blyk dat nóg goed weg is," sê Annette Matthee, namens die Artistic Acrobatic Association of South Africa.
Tussen die vermiste goedere was grimering, haarstileerprodukte, die dansers se geskenkpakkies, draagbare kragkabels en van die deelnemers se ontwerperskostuums.
Daar was aanvanklik verwarring en teleurstelling, maar die 180 deelnemers vanoor die land het moedig en trots op die verhoog verskyn om hul passie te omhels: die kuns van dans.
Dié situasie is onmiddellik by die sekerheidsmaatskappy en by die plaaslike polisie aangemeld.
Teen eenuur die middag is twee verdagtes in hegtenis geneem en die meeste van die gesteelde goedere is gedokumenteer en aan die organiseerders terugbesorg.
"Ons is baie teleurgesteld dat ons dorp só in die skande gesteek word terwyl tientalle mense vanoor die hele land hier byeenkom om hul liefde vir die kuns van dans uit te leef. Ons is egter verlig dat die Riversdal-polisie se vinnige optrede 'n goeie uitkoms verseker het," sê die organiseerders.
Die misdadigers het vermoedelik toegang tot die verhoogkant van die burgersentrum verkry.
In die saal is daar talle duur trofeë en in die voorportaal kosbare skilderye met soveel meer waarde as die goedere wat die misdadigers na bewering gesteel het.
Teen spertyd het die sekerheidsmaatskappy, wat nog die hele week lank vir die veiligheid van sowat 250 mense en hul besittings aanspreeklik is, nog nie op Suid-Kaap Forum se versoeke om kommentaar gereageer nie.
Dié skildery, Ons buig laag, met akriel op doek, deur Marisa de Lange van Stilbaai, beeld die stemming van vanjaar se nasionale danskompetisie in Riversdal uit. Foto's: CJ de Swardt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’