Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die 86-jarige Arah O'Connell van Stilbaai het gewis en seker groen vingers, daarvan getuig haar groentetuin, maar in besonder die ellelange boontjies wat tot 58cm lank is.
Volgens Arah het sy 'n paar boontjiepitte by 'n vriend gekry, maar hulle was baie klein en sy het getwyfel of dit ooit sal groei.
Sy het egter besluit dit sal nie skade doen om te probeer nie. Sy het dit eers in water laat lê, toe in 'n emmer met heelwat kompos daarin, geplant.
"Toe dit begin opkom, het ek dit met arendsoë dopgehou. Dit het begin rank en het ek dit met draadjies vasgemaak sodat dit nie op die grond hang nie. Ek en my man was verstom toe ons die eindresultaat sien," vertel sy.
"Willem het juis gesê dat dit goed is dat ek dit in 'n emmer geplant het, want nou het hulle spasie gehad om langer te word. As ek dit in die grond geplant het, sou dit op die grond gelê het."
Die ander boontjies wissel enigiets vanaf 45cm en langer.
Sy gaan die boontjiepitte hou en dit wat sy nie weer self plant nie, gaan sy uitdeel.
"Enigiemand wat van die pitte wil hê, kan dit gerus by my kom haal," nooi sy. Die pitte is by Albatroslaan 48 beskikbaar.
Kyk 'n video hieronder:
Al ooit sulke allemintig lang boontjies gesien? Dié een is 58cm lank, Foto's: Wilma Adamson
Vorige artikel: Die tannie en die boontjierank
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'