Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - “Ek is eintlik ‘n kluisenaar. Ek geniet privaatheid en is op my gelukkigste wanneer ek net my eie ding kan doen. Ek verpes roetine en ek wil nie aan reëls, horlosies en klokke gebonde wees nie. Ek hou daarvan om my eie kop te volg. En te stamp... Kuns is egter my passie!” sê die kunstenaar, Marilise Lombard van Riversdal.
Sy praat nie graag en maklik oor haarself nie. Maar as sy ‘n collage-kunswerk van haarself moes maak, sou sy die teksture van klippe en die natuurlike, rykste kleure in rotsformasies en waterpoele en grond gebruik.
“Ek leef na-aan die natuur. Die buitelewe, die kleure van ‘n blom, die getjirp van ‘n voëltjie, ‘n trekker met ‘n sleepwa wat mense kerk toe ry, ‘n verweerde plaashek op pad na ‘n bedrywige plaaswerf met diere, veral hoenders en ganse, witgekalkte Kaapse huisies, vrolike mense wat sing en kitaar speel, musiek, kultuur en diere - veral die liefde en lojaliteit van honde wat ‘n mens se hart warm laat klop, verskaf my inspirasie. Ek put vreugde en dankbaarheid uit God se Skepping!” sê dié gelowige vrou.
Fotogalery: Riversdal-kunstenaar Marilise Lombard
Haar man, Christo, ‘n bou-, solar-, loodgieter- en besproeiings-entrepreneur, sê oor sy vrou: ”Haar woord is haar eer. Sy is ‘n vriendelike, lewenslustige omgeemens, sy is ‘n goeie luisteraar, hardwerkend en het baie dryfkrag.”
Dié reguit vrou skram egter nie van haar tekortkominge weg nie. “Ek raak gou moeg en moedeloos; ja, ek bloos nou hieroor... Ek word ongeduldig, onvergenoegd en vloek soms…”
Dié kunstenaar praat nie van “skilder” nie. Sy sê sy “verf”. Maar wanneer haar kwaste ‘n leë doek inkleur, skep sy kuns wat blydskap verskaf.
Kyk 'n video hieronder:
Marilise, ‘n nooi Mentz, is in 1959 gebore en het in 1977 aan die Hoërskool Zwartberg op Prins Albert gematrikuleer, waarna sy ? onderwysgraad in huishoudkunde aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en vier jaar lank by die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein ? onderwyser was.
Kuns was egter altyd ? groot belangstelling en tydens haar onderwysjare het sy met skildertegnieke begin eksperimenteer en haar eiesoortige styl ontwikkel. Sedertdien bied sy ook kunsklasse by haar tuis-ateljee in Langstraat op Riversdal aan.
As kunstenaar én mens ken sy kritiek, mislukking en verlies. “’n Mens leer bloot om dit nugter te verwerk. Dit maak jou ‘n sterker mens om nóg uitdagings te trotseer - en ‘n beter mens anderkant uit te kom.
Marilise sê sy is wel binnekort ? pensioenaris, maar in gees is sy nog 18. Sy en haar man, Christo, is al 36 lank getroud: “Ons is fighting fit, maar ons maak ‘n mean team! Hy help en begeester my in alles wat ek aanpak en doen.”
Uit dié huwelik is twee dogters en ? seun (die oudste) gebore. Die familie het intussen aangegroei met ‘n skoonseun, ‘n skoondogter en twee kleinkinders (seuntjies), - en ‘n derde een, ‘n dogtertjie, is op pad.
“Ek en Christo het albei ons ouers verloor. Ons kinders en hul gesinne is ons seëninge waarom ons lewe draai. Ek glo nog altyd: God eerste, dan ander mense - en dan eers jyself.”
Volgens Marilise is al hul kinders kunstig, entrepreneurs en flukse, suksesvolle mense in hul eie grootmenswêrelde.
Die Lombard-egpaar het hulle in 1995 op Riversdal kom vestig. “Met ons verhuising na die Suid-Kaap het ‘n soeke ontstaan na iets skeppend wat kon getuig van goedheid en vreugde.
Hier het ons, selfs as sogenaamde ‘inkommers’ guns gevind en kon ek my kunsgeskenk ten volle begin leef.”
Sy het onder meer die organisasie Jong Dames Dinamiek se 2004-dagboek geïllustreer en die Paddavlei-kunsgoete – met koffie- en snoeperyewinkel - bedryf.
Hulle bou nou al vyf jaar lank aan hul huis; steen vir steen, self. “Party mense beskryf ons plek as ‘n shack. Dit gaan maar stadig, maar uiteindelik sal dié pondok óns paleis wees. Dit verg baie opofferinge en aanpassings om alles self te doen. Tussen die harde en sweet - wat derhalwe baie kostes bespaar - is daar ook gedurig stof en gevolglike ongerief. Ons leef groen, net sonkrag en gryswater. Die krag van die son bepaal wanneer ek kan stofsuig of die wasmasjien kan gebruik... Maar ons pas ons daarby aan en ons leef onsself ten volle hierin uit!”
Hulle het al baie gereis, onder meer na Griekeland en het vyf jaar lank in Ierland (2004 tot 2009) vertoef. “Die reisgogga bepaal inderdaad my kluitklaplys! Ek hoop om tog weer my vlerke te sprei. Ons reis ekonomies, bly in hostelle, koop kos waar die locals eet, slaap oornag op die dek van ? ferrie of op ‘n trein op pad iewers heen, kamp uit, stap, ry fiets, pas mense wat met vakansie gaan se katte of honde op... Dit is ‘n heerlike en eenvoudige manier om ander mense se kulture te leer ken.”
Marilise put gemoedsrus en genot uit haar tuin en die voëltjies se bedrywighede in hul plasbadjie, die klank van ‘n dreunende vliegtuigenjin, son, see en strand, ‘n glasie wyn en vis en tjips. Sy raak erg morrig oor mense wat God belaster. Sy verpes valsheid, mense wat skinder, lieg en bedrieg, morsjorse, swak diens, onbeskoftheid, uitbuiters en mense wat ons pragtige land verwoes.
Dié innemende méns se leuse is bloot: Fill your life with adventures and memories; not things. Rather have stories to tell than things to show. “Daarom streef ek na rustigheid en tevredenheid. Ek waardeer die genade om vrolik te kan leef en ek is dankbaar vir die gehalte van die lewe wat ek kan ervaar.”
Vorige artikel: Die kuns van 'n kluisenaarslewe
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'