HESSEQUA NUUS - 'n Wegholbrand het op 11 Januarie oor Langberg vanaf Albertinia se kant op Rietvlei se twee woonhuise afgestorm - die naaste een aan die berg, 'n rietdak en die ander een 'n 100 m of wat verder, 'n houthuis.
Hierdie huise staan ver vanaf digte bosse. Pierre Vermaak, 'n dapper vuurgeneraal wat nie omgee om in die voorste linie teen vuur te veg nie, en die brandweer is teenwoordig toe die rietdak begin rook.
Hulle spuit water vir al wat dit werd is, maar dit bly smeul. Hulle wil op die dak klim, maar daar is nie 'n leer nie.
Die smeul raak 'n vuur en tot almal se verbasing sien hul rook onder die sinkdak van die houthuis uitborrel.
Hulle los die rietdak en probeer die houthuis red, maar die isolasie tussen die mure bly smeul.
Van Rietvlei af versprei die vuur ooswaarts langs Langberg af en ook weswaarts langs die berg op.
Daar is 'n vae hoop dat dit sal doodloop teen 'n ou brand by Waterval, maar dit loop in 'n lyn regoor die berg en kom om die ou brand.
Hier verdeel Langberg in drie reekse weswaarts, feitlik onbegaanbaar.
Nou verwoes hy elke dag 'n plaas weswaarts tot hy Sondagaand by Sandkraal aankom.
Van Sondagaand laat tot Maandagoggend 02:00 veg die generaal saam met Heidie en drie ander om 'n voorbrand aan die gang te kry teen die Vanwyksdorp-pad op Sandkraal.
Almal teenwoordig voel verslae, want hulle moes vooraand sien hoe die vuur verwoesting saai by die Louws net langsaan.
Hierdie vuur lyk onstuitbaar.
Die vuur wil sy reëlmaat voortsit van soggens 'n heel bedaarde vuur en van 12:00 af 'n vuurstorm voor die suidewind wat opstaan.
Maar Riaan van Wyk, die vuurkolonel het ander planne. Hy en Lasarus storm die vuur Maandagoggend vroeg met 'n rugsakspuit en 'n trekker met 'n gifspuit aan waar dit rustig in die voorberg-koppe en rante brand.
Hulle slaag daarin om die heel noordelikste vuurlyn te blus. Lasarus pas die gebluste vuurlyn op en kyk vir smeulende blare.
Die vernietigingswerk van die brand.
Riaan loop die vuur storm met sy vol rugsak berg-op. Hy is gedaan en by die punt van moed opgee.
Om relatief onfiks te wees, digte walms rook in te asem en te klim teen 'n steil berghang terwyl jou oë brand en jy moet met 'n rugsakspuit op 'n vuur spuit wat 'n brandslang nodig het, is genoeg om mens te laat moed opgee.
En net toe kom Working on Fire se manne van voor, besig om die vuur dood te maak, berg af.
Die vuurgeneraal skep moed. Sy kolonel het die eerste veldslag gewen teen 'n vuur wat die grootste droogte in 40 jaar, warm winde, droë plantegroei en 16 jaar bosgroei voor en agter hom het.
Hy kry vinnig 'n meesterplan waarlangs hy 'n brandpad al met 'n bergpaadjie langs kan maak.
Hy laat kom 'n 'diggerloader' om die paadjie kaal te stoot aan die een kant. Sy bossieslaner slaan oortollige plantegroei plat.
Die manne van WoF is sy artillerie. Hulle weet hoe om 'n voorbrand te maak.
Al wat in sy guns tel is gewillige werkers (sy infanterie), 'n koel dag met 'n koel wind uit die suidekant en nou en dan 'n motreën.
Die reën het op 'n stadium amper die voorbrand in die wiele gery terwyl dit geensins die hoofbrand gestuit het nie.
Heidie, die generaal se linkerhand, sorg vir moraal deur die manne te lawe met heerlike eet-en drinkgoed.
Die brandpad eindig laatmiddag onder in Langkloof se rivier. Almal weet teen hierdie tyd dat die groot vuur se krag gebreek is en verligting is op almal se gesigte.
Hulle weet ook dat die geveg glad nie verby is nie.
'n Eens pragtige huis...
Een misstap met 'n smeulende bossie of takkie wat oor die brandpad waai, sal hierdie groot daad van nul en gener waarde maak. Dwarsdeur die nag kom die opdrag van die generaal: Julle moet elke uur die brandpad patrolleer.
Die volgende dag en die dag daarna waai 'n warm oostewind en vlam die vuur nog sporadies op in Langkloof.
Die brandpad was net betyds gemaak. Dit sal nou onmoontlik wees met 'n warm wind wat die rook en vlamme in die werkers se gesigte waai. Die vuur weier koppig om bes te gee.
Elke stukkie fynbos wat hy nog kan plat brand is 'n veer in sy hoed. Elke stoppelland of pypleiding wat hy verwoes, 'n medalje aan sy bors.
Uiteindelik gooi die generaal se lugmaghelikopters die laaste waterbomme op die vuur teen die middag van 17 Januarie.
Die infanterie patrolleer die gebluste lyn en die groot vuur se blus is uit - tot 'n volgende keer.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'