HEIDELBERG NUUS - Nog ‘n verdagte wat verbind word met die aanklagte van bedrog teen ‘n afgetrede polisielid van Heidelberg het in die hof verskyn.
Die beskuldigde, Emile Roman (29), ‘n inwoner van Hopefield aan die Weskus, het Donderdag 1 Augustus in die landdroshof in Swellendam verskyn op aanklagte van onder meer bedrog met betrekking tot die beweerde uitreiking van vervalste padwaardigheidsertifikate vir swaar voertuie. Hy is die derde beskuldigde wat binne een week in verband met dié saak in die hof verskyn het.
Roman se verskyning hou verband met die van Alroy Windvogel (63), afgetrede polisie-mediabeampte van Heidelberg, en sy medebeskuldigde Elton Anthony (40) van Vredenburg wat onderskeidelik Vrydag 26 Julie en Donderdag 25 Julie by hul huise in hegtenis geneem is.
Die twee is vroeër in ‘n operasie deur die polisie se eenheid teen handelmisdade en die Wes-Kaapse departement van mobiliteit en van verkeersdienste aangekeer na ‘n ondersoek na padwaardigheidsertifikate vir vragmotors wat op verskeie plekke uitgereik is.
Beide Windvogel en Anthony het Maandag 29 Julie vir die eerste keer in die Heidelberg-landdroshof op aanklagte van bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie asook regsverydeling, verskyn. Hulle is elk borgtog van R 2 000 toegestaan en gewaarsku om twee keer per week by hul onderskeie polisiestasies aan te meld en ook om geen telefoniese of persoonlike kontak te maak met die twee getuies van die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement en provinsiale verkeer nie.
Roman het homself aan die polisie oorgegee. Hy is glo ‘n wetstoepassingsbeampte by die Vredenburg-munisipaliteit en het ook op aanklagte van bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie asook regsverydeling verskyn.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse mediabeampte, sê Roman ook op borgtog van R2 000 vrygelaat en hy sal ook op Maandag 2 September saam met Windvogel en Anthony in die hof op Heidelberg verskyn.
Nog arresstasies word in die Wes-Kaap asook in nog ten minste twee ander provinsies verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’