HEIDELBERG NUUS - Wat maak mens as jou laerskoolseunskind uitsonderlik op die rugbyveld presteer en die afrigters van groot rugbyskole of -provinsies aan jou deur kom klop?
Dis nie meer 'n moeilike besluit vir 'n gesin nie. Die deur het oopgeswaai vir die spelers.
Hulle is nou op dieselfde pad wat so baie van ons nasionale helde na suksesvolle provinsiale en nasionale rugbyloopbane geloop het.
Een speler wat vanjaar die rugbykenners se verbeelding aangegryp het, is Lee-winn Pretorius (12) van De Waalville Primêre skool wat in Junie as deel van die o.13-Cravenweekspan van die SWD laerskole in Mpumalanga gespeel het. Cravenweek bring die beste van die bestes in die onderskeie ouderdomsgroepe en uit die verskillende provinsies bymekaar. As 'n jong speler dit tot hier gehaal het is die SARU-provinsies se oë op hom.
In die Craven-week o.13-wedstryde het Pretorius hom onderskei met sy voorspelerspel op flank en het 'n gesogte speler van die wedstryd-toekenning gekry. Boonop is hy nou eers 12 jaar oud en kwalifiseer volgende jaar weer vir dieselfde span. Dis verseker dat heelwat provinsies reeds sy naam in potlood ingeskryf het en net wag dat hy ouer word.
In September het hy die SWD o.12-span as kaptein op Oakdale teen die spanne van OP, WP en Boland aangevoer. Sy span het bo verwagting eerste geëindig na hulle die gedugte WP-span met 17-0 gewen het. Hulle het net teen Boland vasgeval.
Sy oupa, 'Kaptein' Allister Pretorius, kan met reg trots wees op sy kleinkind wat nou in sy voetspore volg. Pretorius sê hy wil volgende jaar Oakdale toe gaan want behalwe rugby, wil hy eendag rekenmeester word.
Ander spelers wat hierdie jaar provinsiale kleure verwerf het is Leighton September (hy het in Italië getoer), Reevin February (hy het in Engeland en Wallis getoer), Blake Morgan (Craven-week o.18, ook SWD-atletiek) en Jaylin du Toit en Deslin Pieters (albei was in SWD se o.13-7's spanne).
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'