HEIDELBERG NUUS - Die skool het onlangs aan 'n plastiekherwinningsprojek deelgeneem om plastiek broodsakkies vir herwinning in te samel. Die projek is deur Sasko Sam geïnisieer om herwinning onder jong kinders aan te wakker.
Die leerders het vanaf Februarie tot Mei 2 534 sakkies ingesamel, wat aan hulle die eerste prys in die Hessequa-streek besorg het.
Tydens die oorhandiging van die pryse, wat 'n paar kartondose vol leesboeke behels het, het Sasko Sam die kinders met bietjie pret bederf. Van die leerders het danspassies uitgevoer en daarmee verskeie pryse verower.
Die Sasko-span is deur die prinsipaal, Ralph Jacobs verwelkom. Hy het sy dank aan die streekbestuurder, Naomi Hendricks uitgespreek. Leonard Adams (opvoeder) het as seremoniemeester opgetree en die bedankings gedoen.
Hendricks het die personeel en veral die leerders vir hul bydrae tot die sukses van die projek bedank. Sy het hulle ook aangemoedig om nie tot rommelstrooiery by te dra nie, maar eerder te herwin.
Naomi Hendricks en Leonard Adams staan by die leerders wat vir hulle pryse losgedans het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'