RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven se o. 18-netbalspan het die afgelope naweek hul staal gewys teen van die provinsie se beste skole en ’n verdienstelike derde plek tydens die Wes-Kaap-skolekampioenskappe in hul poel behaal.
Die span het die toernooi sterk begin met ’n oortuigende 31 - 11-oorwinning oor De Kruine, gevolg deur nog ’n indrukwekkende 32 - 10-sege teen Qhayiya.
Teen die sterk spanne van Paarl Gimnasium en DF Akademie moes Langenhoven egter die knie buig.
Paarl Gimnasium het met 33 - 10 geseëvier, terwyl DF Akademie met 27 - 16 die oorhand gekry het.
Ten spyte van die twee nederlae het die span deurgaans karakter, vasberadenheid en uitstekende spanwerk getoon om die kampioenskap met ’n derde plek in hul poel af te sluit.
Hoërskool Langenhoven het die spelers gelukgewens met hul prestasie en die wyse waarop hulle die skool se groen en goue kleure verteenwoordig het.
“Julle deursettingsvermoë, spanwerk en sportmangees maak ons ongelooflik trots.
Dankie dat julle Hoërskool Langenhoven met onderskeiding verteenwoordig het,” het die skool gesê.
Die prestasie beklemtoon die hoë standaard van netbal by die skool en bied ’n stewige grondslag waarop die span verder kan bou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’