HEIDELBERG NUUS - 'n Groep werkers van Heidelberg, verbonde aan die regering se Community Works Programme (CWP), staar 'n onseker toekoms in die gesig omdat hulle nog nie hul salarisse van verlede maand ontvang het nie.
Twee van hulle is ook nie vir die vorige maand betaal nie. Volgens dié twee word hulle elke keer aangesê om hul bankstate in te dien. "Ons het dit al soveel keer gedoen, so, wat moet ons nog doen?" wou hulle gefrustreerd weet.
Dié groep van 21 werkers wat dienste by verskeie instansies op die dorp verrig, het gesê dat hulle sedert 29 Mei daagliks navraag oor hul salarisse doen.
"Ons loop ons elke keer net teen leë beloftes vas. Hoe dink hulle moet ons kos op die tafel sit?" Volgens die werkers gaan hulle en hul kinders 'n duister toekoms tegemoet.
Nóg 'n kwelling wat hulle het, is waarom die verantwoordelike departement, COGTA nie vir TERS aansoek doen vir die werkers nie. "Dit beteken dat ons nie eens vir die R350 kan aansoek doen nie, omdat ons status aandui dat ons werk."
Samkelo Majo, streeksbestuurder van die implementeringsagent, Aids Foundation het nie op die Suid-Kaap Forum se e-pos wat Woensdag, 3 Junie aan hom gestuur is, gereageer nie, maar wel telefonies genoem dat hulle van die werkers se situasie bewus is. Hy het gesê dat hy dit met COGTA sou opneem en het beloof om skriftelik terugvoering te gee.
Die Forum se korrespondent het wel 'n skrywe gesien waarin COGTA onderneem om die kwessie aan te spreek, maar geen spesifieke datum is gegee aangaande wanneer die werkers betaling sal ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'