HEIDELBERG NUUS - Crusaders-rugbyklub van George het gister in hul wegwedstryd teen Heibi die tuisspan in die doodsnikke met 64 - 57 geklop in 'n wedstryd wat nog lank as 'n ware drieëfees onthou sal word.
Dit nadat Heibi in die derde SWDRU Superliga Top 8-wedstryd met 43 - 31 teen rustyd voorgeloop het. Altesaam 17 drieë is aangeteken, waarvan Crusaders nege en Heibi agt gedruk het.
Die klipharde wedstryd het baie goeie en, by tye, sprankelende rugby opgelewer, maar albei spanne se verdediging het hulle ietwat in die steek gelaat.
Die tuisspan se tweede- en derdespanne het egter hul wedstryde gemaklik gewen. Die C-span het die eerste wedstryd met 45 - 27 gewen nadat hulle rustyd met 19 - 10 voorgeloop het.
Die B-span het 'n wegholoorwinning van 76 - 7 behaal nadat hulle rustyd reeds met 45 - 7 voor was.
Heibi speel volgende week weer tuis teen Progress en sal hul verdediging beslis moet opskerp as hulle die vlugvoetige besoekers van George suksesvol wil troef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’