Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Hessequa-munisipaliteit het Maandag 2 November 'n nuwe brandweerwa in ontvangs geneem.
Met die nuwe toevoeging is die brandweer meer paraat as ooit tevore om die brandseisoen die hoof te bied. Die brandseisoen wat hierdie week amptelik begin, is reeds deur verwoestende brande naby Albertinia voorafgegaan.
"Ons staan die gemeenskap dwarsdeur die jaar by, maar veral ook in die vakansieseisoen en ons het 'n deeglike nooddiensplan in plek," het Chris Onrust, wat die seremonie fasiliteer het, gesê.
Die nuwe toevoeging tot die brandweer se vloot is met 'n indrukwekkende drilvertoning deur brandweerpersoneel ingelui, gevolg deur 'n demonstrasie van die voertuig se besondere vermoëns.
Die omgeboude voertuig wat deur Ramcom van George gebou is, het 'n kapasiteit van 5 000 liter. "Wat die voertuig uniek maak is dat dit een brandweerlid in staat stel om binne sekondes 'n brand met water en of skuim vanuit die kajuit te blus," het Brandon Woolley van Ramcom gesê.
Die voertuig is onder meer ook toegerus met pompe wat druk opwek vir die kragtige waterspuite, 'n kragop-wekker vir ligte om 'n toneel in die nag te belig, brandslange van verskillende groottes, die vermoë om 'n vuur uit verskillende hoeke te bespuit, asook toerusting wat die voertuig self kan natspuit indien dit deur die vlamme vasgekeer raak.
Die voertuig kan moeilike, beboste gebiede op plase bereik omdat hy sy weg deur die plantegroei kan baan. Dit is egter ook geskik om brande in woonbuurte waar min ruimte tussen strukture is, te bereik.
Kyk 'n video hieronder:
Die raad het die afgelope drie jaar die brandweereenheid se kapasiteit begin uitbou. Die afdeling beskik tans oor twee groot brandweerwaens, twee medium-brandweerwaens, drie 2x4-bakkies met bakkiesakkies en nog twee 4x4-bakkies met bakkiesakkies, twee 4x4 Buffels, asook en 'n personeelbussie. Die totale waarde van die toerusting is meer as R10 miljoen.
"Ons wil 'n omgee-munisipaliteit wees en ons wil ons woord in dade omsit," het burgemeester Grant Riddles, tydens die seremonie gesê. "Ons het die afgelope naweek weer twee huise verloor. Ons probeer die dorpsgemeenskappe ondersteun en daarvoor is goeie brandweertoerusting nodig. Ons staan ook die plase by wat die afgelope paar jaar duisende hektaar veld verloor het."
Lees 'n vorige artikel: Hessequa neem nuwe brandweerwa in ontvangs
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'