GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 25 April sy tweede agtereenvolgende nederlaag in die SWDRU Superliga A-reeks gely toe die Groot-Brakrivier-rugbyklub hom met 54 - 28 in ’n eensydige wedstryd oorrompel het.
Die tuisspan het reeds teen rustyd ’n gerieflike voorsprong van 35 - 0 opgebou en uiteindelik agt drieë teenoor Heibi se vier aangeteken.
Ondanks die swaar nederlaag het die besoekers in die tweede helfte karakter getoon en met vier drieë daarin geslaag om ten minste ’n bonuspunt te verseker.
Vir Groot-Brakrivier was Tyrese Micheals die uitblinker met drie drieë, terwyl Enrico Damons twee keer gaan druk het.
Christian Pretorius, Marvin Smart en Winrich Kennedy het ook elk ’n drie bygedra.
Roshwin Abrahams was skerp met die skoen en het sewe doelskoppe oorgeklits.
Heibi se Reagan Geldenhuys het drie keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Marcel Marais een drie gedruk het. Ralton October het al vier drieë verdoel.
In die vroeër wedstryde het Groot-Brakrivier se C-span met 19 - 3 gewen, maar Heibi se B-span het met 22 - 15 geseëvier.
Heidelberg speel komende Saterdag tuis teen die Barbarians-rugbyklub in wat na verwagting ’n harde en opwindende kragmeting sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’