SUID-KAAP NUUS - Werksaamhede op plase gaan soos gewoonlik voort te midde van die Covid-19-inperking, maar...
"Daar is nie vreeslik baie ontwrigting nie, maar daar is tog 'n paar uitdagings," sê leierboer Henry Meyer.
"Dié week het 'n onderdeel van 'n trekker gebreek. Ons het drie verskaffers gebel, waarvan net een op bystand was. Dit beteken ons moet inry dorp toe en gaan kyk of hy dit kan regmaak. Indien daar nie onderdele is nie, kan dit dalk lank vat om dit te bekom - die verskaffers is ook gesluit en vervoer is beperk. Die trekker gaan langer as gewoonlik staan."
Hy is ook bekommerd oor die pryse van voedsel wat kan daal as gevolg van 'n afname in verbruikersaankope - veral van produkte soos kaas en luukse suiwelprodukte. "Een van die groot aankopers in die Tuinroete het 'n 45c per liter prysverlaging vir die aankoop van melk vanaf 1 April aangekondig. Ons vermoed ander melkkopers gaan hulle volg." Die Melkpodusente-organisasie (MPO) het dié verlaging bevestig.
Volgens Meyer daal groentepyse ook weens die swak vraag. "Die invloed van straatsmouse se afwesigheid begin nou weer wys - en dit gaan vererger." Die smouse koop vars groente op plase aan.
Die skape gaan ook nie nou geskeer word nie, want die skeerders is terug Lesotho toe. "As ons nie binne vier weke skeer nie, gaan ons eers weer na die winter kan skeer. Dit gaan 'n helse impak op ons kontantvloei hê. Dit gaan ook die ooie se reproduksie beïnvloed - ooie begin 15 April lam en 'n ooi met lang wol sukkel met haar lammers. Die wolkwaliteit kan ook afneem as gevolg van lamskok by die ooie."
En dis nie al nie.
Vervoer van mense uit dorpe na groenteplase is 'n probleem "Agri Wes-Kaap het ure lank met die polisie en provinsiale verkeersowerhede vir 'n spesiale permit vir vervoer van werkers onderhandel om dit glad te laat verloop. Die boodskap het nie by die munisipale verkeersafdelings uitgekom nie. Daar is ook verwarring oor besighede in dorpe wat 'n munisipale stempel moet hê en ons boere wat dit nie nodig het nie."
Nog 'n uitdaging is om maskers te bekom. "Agri Wes-Kaap is besig om 'n grootmaatbestelling vir lede te bekom. Pakstore en verwerkingsaanlegte sukkel daarsonder.
"Dit is ook moeilik om die afsonderingsproses aan plaaswerkers te verduidelik en hulle in te perk - veral naweke wil hulle rondloop. Soos tyd loop sal daar seker meer uitdagings kom. Ons vat dit maar soos dit kom."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'