STILBAAI NUUS - Die Blombos Argeologie Museum in Stilbaai het Dinsdag 7 Oktober tydens die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport se jaarlikse kultuur toekenningsgala met 'n spogprys weggestap.
Die geleentheid, in die Artscape Teater in Kaapstad, het die uitstaande bydraes tot die veld van kuns, kultuur, taal, erfenis, biblioteke, museums en argiewe in die provinsie gevier.
Die museum het die prys gewen vir die beste innoverende projek in die veld van museums, erfenis en geografiese name.
Petro Keene, kurator en hoofontwerper van die uitstalling, Origins of Early Southern Sapiens Behaviour, het die toekenning namens die museum en die Wits/SapienCE ontvang.
Craig Foster, Lisa Hulett en hulle toegewyde span het nou saam met Keene gewerk om hierdie permanente uitstalling moontlik te maak.
Die uitstalling se artefakte, films en navorsing by die Blombosgrot strek oor
120 000 jaar en is een van daardie moet-doen aktiwiteite as jy Stilbaai besoek.
Finansiering vir die projek het grootliks gekom van die Wits SARChI Chair van prof.
Christopher Henshilwood, Hessequa-munisipaliteit en die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR).
Henshilwood het dan ook sy gelukwen-singe oorgedra aan almal wat betrokke was - die ontwerpers, installeerders en kurators op 'n welverdiende toekenning.
Dit is 'n trotse prestasie, nie net vir die span nie, maar ook vir Stilbaai.
Die museum is geleë by Palinggat en is in die gebou van Stilbaai-toerisme. Kontak die toerismeburo by 028 754 2602 vir enige navrae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’