WITSAND - Bitcoin is sedert Saterdag, 20 April amptelik skaarser as goud en ter viering daarvan is ’n Bitcoin “Halving”-partytjie by ’n gewilde restaurant in dié dorp gehou.
Volgens ’n plaaslike kenner en Bitcoin-entoesias, Edwin Jones, beteken die sogenaame “Halving” of halvering dat dié bekende kripto-geldeenheid nou skaarser geword het.
“Die hoeveelheid nuwe bitcoin wat met elke blok gemyn word is gehalveer van 6.25 na 3.125. Dit gebeur elke 210 000 blokke, wat so vier jaar uit mekaar is,” het hy verduidelik.
Jones meen dit dien as ’n herinnering dat die reëls wat op 3 Januarie 2009 opgestel is steeds deur die netwerk afgedwing word en nooit verander kan word nie. “Dit maak seker dat daar nooit meer as 21 miljoen Bitcoin sal bestaan nie en dat ons geld nie vernietig sal kan word deur mense wat dit aanhoudend druk soos in die tradisionele sisteem nie. Bitcoin is beter geld en hoop vir die wêreld.”
Daar is altesaam 29 besighede in Witsand, waarvan omtrent 12 gastehuise is, wat Bitcoin aanvaar.
Interessante webtuistes vir diegene wat dalk meer wil weet sluit in btcmap.org/map, mempool.space en blink.sv.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’