SUURBRAAK NUUS - 'n Gesin het Vrydag 22 Junie teen ongeveer 16:30 'n noue ontkoming gehad nadat hul voertuig se regtervoorband vermoedelik deur 'n skerp klip stukkend gesteek is.
Die gesin, twee volwassenes en drie kinders was reeds 6 km op die grondpad, onderweg na Suurbraak. Dit het voorgekom asof die pad geskraap was omdat daar baie los grond en klippe was.
Die voertuig het skielik na die regterkant van die pad getrek, waarna die bestuurder probeer het om beheer daaroor te kry. Dit het egter heen en weer geswaai en teen een van die walle langs die pad geskuur. Die impak teen die wal het veroorsaak dat een van die wiele afgebreek het.
"Ons het glad nie eers vinnig gery nie, maar die motor het op die los klippe gegly, al het ek hóé hard probeer om dit reguit te hou. Ek het my bes probeer om nie die motor te laat rol nie en gelukkig het dit nie. Die motor het wel baie skade opgedoen. Ons wil graag ander mense waarsku om versigtig te wees," het die bestuurder gesê.
Geen ander voertuie was betrokke nie en die bestuurder het slegs ligte beserings opgedoen.
'Ons bring jou die nuutste Suurbraak, Hessequa nuus'