Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - 'n Volwaardige Youth Cafe wink vir Hessequa vir jeugbemagtiging.
Uitvoerende burgemeester Grant Riddles het Donderdag, 19 November die sooispit by die Thusong Sentrum op Riversdal waargeneem, waar die sentrum opgerig sal word en ook mobiele programme van daar in die verskillende dorpe binne Hessequa-munisipale gebied aangebied sal word.
Bouwerk is geskeduleer om binne die volgende twee weke te begin. Indien alles volgens plan verloop, sal dit teen Maart 2021 voltooi te wees. "Na gesprekvoering met die kontrakteur is ooreengekom dat van plaaslike arbeid gebruik gemaak sal word tydens die duur van die kontrak," het Didi Budricks, munisipale kommunikasiebeampte gesê.
Volgens haar het hulle ten doel om programme vanaf die sentrum aan te bied, waar 'n platform vir jeugdiges geskep sal word om toegang tot vaardighede te verkry en opleiding vir persoonlike, ekonomiese en sosiale ontwikkeling.
"Dit is 'n nuwe en opwindende program wat ondersteuning, dienste en geleenthede vir mense tussen 14- en 25-jaar oud bied. Youth Cafe's sluit koffiewinkels in wat volledig funksioneel is waar jongmense kan ontspan, met mekaar kan gesels en koffie kan drink, asook opleidingsprogramme kan bywoon wat hul opleiding kan bevorder."
Kyk 'n video hieronder:
Budricks beskryf 'n Youth Cafe as 'n lewendige, verwelkomende, positiewe en bevestigende omgewing met goed beplande, spesiaal ontwerpte programme en aktiwiteite wat deur bekwame, selfversekerde en empatiese personeel aangebied word wat vertrouensverhoudinge met jongmense bou.
Van die dienste sluit in die gebruik van rekenaars, toegang tot internet, indiensnemingsprogramme, leierskap- en mentoropleiding, asook gespesialiseerde kursusse soos grafiese ontwerp, haarkappery, noodhulp, videografie en geleentheidsbestuur.
Vorige artikel: Youth Café 'n realiteit vir Hessequa
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'