Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Een van die land se bekendste ekonome, Ulrich Joubert het tydens Stilbaai-sakekamer se eerste byeenkoms vir 2022 sy mening gegee oor die huidige stand van die ekonomie.
Joubert is 'n voormalige hoofekonoom van Transnet en een van die enigste ekonome wat die Beeld Ekonoom van die Jaar-toekenning drie keer verower het.
Rachel Wall, voorsitter van die sakekamer het na twee jaar se probeerslae uiteindelik vir Joubert gekry om Stilbaaiers toe te spreek.
Joubert het begin deur te sê dat die wêreldekonomie 'n direkte invloed op ons ekonomie het en dat die wêreldekonomie in 2020 grootliks as gevolg van die Covid-pandemie gekrimp het. Dit het egter in 2021 weer sterk gegroei.
“Die vooruitskatting is dat dit steeds in 2022 sal groei, maar wel stadiger. Groei in Europa, 'n belangrike uitvoergebied vir ons, behoort so tussen 4 en 5% te wees. Energiepryse klim egter deur die dak, grootliks oor die woelinge tussen Rusland en die Oekraïne en ons almal weet as die olieprys klim, klim al die pryse,” het hy gesê.
Die politieke omgewing speel dus 'n groot rol en die beweging van die rand is ook baie sterk aan hierdie woelinge gekopppel.
Die VSA sit met 'n inflasiekoers van 7.5%, maar aan die ander kant sit Japan met 'n inflasiekoers van 0.5%. Sentrale banke wêreldwyd het massas geld in die ekonomie gepomp en rentekoerse afgebring, maar om inflasie hok te slaan moet hulle egter nou weer rentekoerse verhoog en geld verminder. Hoë rentekoerse is negatief vir mense met skuld en dit sal ook mense negatief raak wat huise koop. Dit het ook 'n direkte invloed op Stilbaai met die groot invloei van nuwe intrekkers.
VIDEO - Bekende ekonoom spreek sakekamer toe
Volgens Joubert is daar vier faktore wat die gang van die ekonomie bepaal:
• Buitelandse handel
Suid-Afrika het in 2021 'n surplus van tweehonderd miljard rand gehad en hoewel die vooruitskatting vir hierdie jaar slegs twintig miljard rand is, is dit steeds 'n surplus, wat goeie nuus is.
• Werkloosheid
Tans sit die land met 'n 34% werkloosheidsyfer en 'n 2% bevolkingsgroei. Die groot demper is swak opleiding en onderwys in Suid-Afrika en dit sal dringend aangespreek moet word.
• Inflasiekoers
Die land se inflasiekoers is tans tussen 5-6% en die mikpunt is 4.5%. Oliepryse het 'n direkte invloed en met die oliepryse nou weer by $100 per vat, voorspel dit niks goeds nie. Die regering se besluit om die eerste keer in 32 jaar nie die brandstofheffing te verhoog nie het maatskappybelasting van 28% na 27% afgebring. Dit kan meehelp om prysstygings in toom te hou.
• Die staat se finansies
Hy sal dringend aandag moet gee aan sy salaris en loonrekening wat huidiglik 34% van sy begroting uitmaak.
Ter afsluiting het Joubert gesê dat die sakekamer 'n uiters belangrike rol vervul om mense na Stilbaai te lok om te verseker dat hulle eerder hul besigheid hiér sal doen as in die buurdorpe. Die sakekamer moet verseker dat die plaaslike raad sy inkomste reg spandeer. Die dorp se infrastruktuur moet van hoogstaande gehalte wees en gunstige tariewe gaan mense lok. Is Stilbaai se munisipale tariewe 'n lokmiddel of 'n afskrikmiddel?
“Toerisme speel 'n groot rol speel en moenie net op die Paasnaweek en Desembervakansie gefokus word nie. Daar moet iets wees wat toeriste regdeur die jaar lok. Heelwat meer kan gedoen word om vakansiegeriewe langs die Goukourivier te skep.”
In haar bedanking het Wall gesê dat hulle so twee jaar gelede 'n visie vir Stilbaai geskep het om seker te maak dat ontwikkeling volhoubaar sal geskied. Hulle het besluit om dit wat belangrik is te beskerm, terwyl hulle fokus op groei.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'