HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie in samewerking met Buffeljagrivier-korrektiewedienste het Woensdag en Donderdag, 6 en 7 April, op dié dorp asook op Slangrivier inligtingsessies vir senior burgers oor veiligheid aangebied.
Die verrigtinge het by die Rivervalley Senior Burgerklub op Slangrivier en die Duivenhoks-biblioteek plaasgevind.
Lede van die plaaslike GPF asook die Da Gamastreek GPF en die Da Gamastreek Vispolhoof, lt.kol. Gerrit Pieterse het die verrigtinge bygewoon.
Grant Riddles, Hessequa se burgermeester, het die sessie op Heidelberg bygewoon, waar hy die seniors gemaan het om hul veiligheid eerste te stel.
Die aanwesiges is deur verskeie sprekers van die departemente se lede toegespreek en gevra om baie oplettend te wees waar hulle hulself bevind.
Hulle is veral aangemoedig om nie goedmoeds vreemdelinge te vertrou nie, veral diegene wat goedere te koop aanbied. Hulle is ook meegedeel dat hulle die polisie dadelik in kennis moet stel as hulle verdagte persone in hul omgewing op let.
Musiek is gespeel en veral by Rivervalley het die senior burgers lekker makietie gehou.
Kerse is ook aangesteek ter nagedagtenis aan verskeie lede van beide seniorklubs wat oorlede is.
Van links is: Heinrich Hartnick, Da Gamastreek GPF voorsitter; Grant Riddles, Hessequa-burgermeester; Edlyn Willemse, Buffeljagsrivier DKD; kapt. Noxolo Rulwa, plaaslike Vispolhoof; Lenichia Willemse, Hessequa-mediabeampte; sers. Imorgene Hendricks, plaaslike SAPD mediabeampte; en lt.kol. Gerrit Pietertse, Da Gamastreek Vispolhoof. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'