GOURITSMOND NUUS - ’n Jongman (26) is agter slot en grendel nadat hy ’n bejaarde man in sy huis in Kusweg, na bewering met ’n vuurwapen gedreig en wou beroof het.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die voorval om 13:30 Vrydag 1 Mei by die Albertinia-polisiekantoor aangemeld.
Die ondersoek toon dat die 92-jarige inwoner saam met ’n ander familielid in die kombuis was toe ’n man met ’n vuurwapen opgedaag het.
Hy het die inwoners gedreig, waarna ’n geveg ontstaan het en die jongman van die toneel gevlug het.
Die owerhede is in kennis gestel en die verdagte is aangekeer en met ’n nagemaakte vuurwapen in sy besit gevind. Hy is daarna in hegtenis geneem.
Die verdagte het reeds Maandag 4 Mei in die landdroshof in Albertinia verskyn.
Die saak is tot Donderdag 7 Mei vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.
Die ondersoek duur voort.
Daar sal nog aanklagtes bygevoeg word soos die ondersoek ontvou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’