SUID-KAAP NUUS - Brande wat buite beheer in Australië woed, hou 'n les vir die Suid-Kaap in.
"Miljoene hektaar kosbare landbou- en bewaringsgrond regoor Australië is afgebrand, derduisende diere het doodgebrand en duisende huise is verwoes," sê Cobus Meiring van die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI).
"Daar is aanduidings dat die Australiese ekonomie as gevolg daarvan 'n afwaartse neiging gaan toon en dat dit 'n nadelige invloed vir gemeenskappe wat uit die verwoesting moet opstaan, kan hê."
Hy meen inwoners van die Tuinroete moet oplet na die gevaartekens.
"Selfs drie jaar na die mees verwoestende brande in Suid-Afrika se geskiedenis in 2017 en 2018, is dit nie moontlik om die werklike skade van die Knysna-brande te bepaal nie. Hoewel kleiner in skaal as die Australiese ramp, was die Knysna- en Outeniekwabrande omvangryk en verwoestend vir die plaaslike inwoners en die ekonomie."
Buiten skade aan infrastruktuur soos grensdrade, besproeiingsnetwerke, kommunikasie-infrastruktuur, boorde en plantasies, was die skade aan die biodiversiteit ook omvangryk. Die verlies aan plantspesies wat dikwels totaal uitsterf weens te veel brande oor 'n kort tydperk, insekte, reptiele, voëls en so meer is insiggewend."
Volgens Meiring word die Wes-Kaap, insluitend die Tuinroete, gereeld deur veldbrande wat meestal kwaadwillig of nalatig van oorspong is, geteister. "Die enigste rede waarom die Tuinroete nie tans 'n buitengewone hoë brandsyfer toon nie is omdat meer as 200 000 ha die laaste aantal jare afgebrand het en daar is soveel minder biomassa wat kan brand."
Hy sê die Garden Route-distriksmunisipaliteit en sy vennote wat deel vorm van die Tuinroete Omgewingsforum (GREF) is aktief besig om grondeienaars by te staan en aan te moedig om die hergroei van indringerplante te beheer ten einde 'n herhaling van die erge brande te voorkom.
Meer inligting is beskikbaar by https://www.scli.org.za/gref/
Lees 'n vorige artikel: Tuinroete moet by Australië leer
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'