Update
HESSEQUA NUUS - Die konsepbegroting vir Hessequa beloop bykans R500 miljoen.
Daar is goeie en slegte nuus in vanjaar se konsepbegroting, maar oor die algemeen word Jan Alleman se sak nie te erg geraak nie.
Volgens dié voorlopige begroting is die totale inkomste R490 059 346 en die totale uitgawes R492 207 014. Om die verskil te balanseer, word geringe tariefaanpassings voorgestel.
Eiendomsbelasting word verhoog van 8% tot 9% vir residensiële, besigheids- en landelike eiendomme. Die belasting op regeringseiendom word van 4% tot 6,63% verhoog, terwyl die belasting op leë erwe van 24% tot 9% afneem.
Sommige diensteheffings word ook aangepas om in pas te bly met stygende pryse en nasionale tariefverhogings. Die heffing op water (12%), vullisverwydering (15%) en diverse tariewe (6%-8%) bly onveranderd. Die elektrisiteitheffing verhoog ’n bietjie van gemiddeld 6,84% tot gemiddeld 7%, terwyl die rioolheffing van 8% tot 9% styg.
Inwoners in al die gebiede sal verheug wees oor die projekte waarvoor die konsepbegroting voorsiening maak. Die sportgronde by Slangrivier en Melkhoutfontein word teen R3 miljoen elk opgradeer, R11 miljoen is opsy gesit vir die opgradering van paaie, en altesaam R21 535 miljoen word opsygesit vir die opgradering van die elektrisiteitsnetwerk. In die lig van die verwoestende veldbrande wat die streek teister, kry Hessequa-brandweer ’n welkome R2 005 000.
Altesaam R16 422 miljoen is opsygesit vir die opgradering van watervoorsiening, wat R3 500 000 vir die rehabilitasie van die Riversdal-reservoir insluit.
Die totale riool-opgradering in die streek beloop R27 867 miljoen, waarvan Albertinia R1 550 000, Riversdal R8 967 500, Stilbaai R14 000 000 en Gouritsmond R1 500 000 kry.
Nog goeie nuus is dat bejaardes en gestremdes korting op eiendomsbelasting gaan kry. Indien hulle tussen 60 en 75 jaar oud is, kry hulle 25% af, tussen 76 en 85 is dit 35%, en as hulle 86 jaar of ouer is, is die korting 50% waar dit vroeër 40% was. Die deernisbeleid maak ook voorsiening vir twee kategorieë, naamlik vir huishoudings wat ’n gesamentlike inkomste van nul tot R3 500 per maand verdien, en diegene met ’n inkomste van R3 501 tot R4 000 per maand.
Kliënte wat waterlekkasies gou herstel en die nodige dokumente indien, kan ook korting kry.
“Die finansiële volhoubaarheid van Hessequa is van groot belang en die toekomstige begroting moet sorgvuldig saamgestel en streng bestuur word volgens die langtermyn finansiële plan,” sê Johan Jacobs, munisipale bestuurder. “Inkomstebronne is steeds beperk. Uitgawes moet tot die minimum beperk en besteding aan onderhoud moet streng gemonitor word.
“Die begroting is die as waarom die munisipaliteit draai. Dit is vir ons belangrik om die streek goed te bestuur. Die feit dat ons dit regkry, word weerspieël in die feit dat ons vir die vyfde agtereenvolgende jaar die trofee vir ’n skoon oudit gekry het.” Hessequa en Garden Route-distriksmunisipaliteit is die enigste in die Suid-Kaap wat vanjaar ’n skoon oudit gekry het.
Die konsepbegroting moet volgens die munisipale wet aan die publiek vir kommentaar en oorweging voorgelê word voordat dit vir goedkeuring aan die Raad voorgelê kan word.
Die publiek kry kans om op die volgende datums hul mening daaroor te lug:
15 April 2019: 15:00 Witsand (Gemeenskapsaal); 19:00 Heidelberg (Duivenhoksaal); 19:00 Slangrivier (Gemeenskapsaal)
16 April 2019: 19:00 Riversdal (Thusongsaal); 19:00Kwanokuthula (Gemeenskapsaal)
23 April 2019: 15:00 Stilbaai (Gemeenskapsaal); 19:00 Melkhoutfontein (Gemeenskapsaal)
25 April 2019: 15:00 Gouritsmond (Gemeenskapsaal); 19:00 Albertinia Theronsville (Gemeenskapsaal).
Johan Jacobs, Hessequa se munisipale bestuurder, Marina Griesel, direkteur: korporatiewe dienste, en Susan Geldenhuys, woordvoerder. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Hessequa konsepbegroting sowat R500 miljoen
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'