STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Leeskring het Donderdag 23 April gasheer gespeel vir Réna Rauch se bekendstelling van haar debuutroman, Beauty.
Die Kliphuis by Tuin-op-die-Brak het ’n entoesiastiese gehoor gelok en Riana Scheepers, wat as gespreksleier opgetree het, was uitmuntend.
Rauch is in George gebore en het by Hoërskool Outeniqua matrikuleer, waarna sy aan die Universiteit van die Vrystaat, Unisa en later Stellenbosch Universiteit studeer het.
Sy behaal haar MPhil in Toegepaste Etiek (Biomediese Etiek) cum laude.
Haar agtergrond in etiek, asook letterkunde, voed haar belangstelling in die morele kompleksiteit en menslike weerloosheid - temas wat in die roman deurskemer.
Rauch woon tans in Kanada, waar Beauty gestalte gekry het.
Die verhaal is geïnspireer deur haar meestersnavorsing, en die hooftema is die stilte oor geweld teen vroue, veral Zoeloevroue in KwaZulu-Natal.
Die uitgewer, Naledi, beskryf die verhaal soos volg: ná ’n huwelik van 18 jaar vra die akademikus, joernalis en ma, Catherine Haig, haar man vir ’n egskeiding.
Watter rol speel ’n geheim en ’n belofte in haar jeug hierin?
Het die redakteur van die koerant vir wie sy ’n rubriek skryf ’n té groot invloed op haar?
En waar pas haar komplekse vriendin in die prentjie?
Catherine bevraagteken die stilte rondom die geweld teen Zoeloevroue, en dit plaas haar in die kollig - en in gevaar.
Wanneer ’n voormalige sekswerker haar pad kruis, word Catherine gedwing om ongemaklike waarhede oor mag, skuld en vrouwees in die oë te kyk. Party vroue droom van eerste soene.
Ander word beroof van daardie onskuld lank voordat hulle enigsins daaroor kan droom.
Beauty bly jou by.
Dit is ’n verhaal van moed, menslikheid en die prys van waarheid - in ’n wêreld waar stilte soms veiliger is as eerlikheid.
Rauch het Esther Scheffer, haar proefleser, vir haar meesterlike logiese korreksies bedank, asook vir Riana Scheepers, wat haar tydens die skryfproses aansporing gegee het.
Die boek is beskikbaar by meeste boekwinkels, of kan direk van Naledi Uitgewers bestel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’