STILBAAI NUUS - Kuumba Sorg is deur Badisa van stapel gestuur met die gedagte dat Kuumba die gesig van kinderbeskerming in die Badisa famile word.
Kuumba is 'n Swahili woord wat rofweg vertaal beteken dat daar in enige gemeenskap kreatiewe samewerking van verskillende belangegroepe behoort te wees met die oog op verbetering van die gemeenskap.
Daar is 'n pragtige popkarakter ontwerp wat as Kuumba bekend staan en deur Badisa personeel gebruik word om aanklank te vind by teikengroepe.
Cornelia Gilliomee, maatskaplike werker van Badisa Stilbaai, en haar span het onlangs in samewerking met die departement van basiese onderwys die meeste laerskole in Stilbaai, Riversdal, Heidelberg en Albertinia besoek om Kuumba en sy boodskap bekend te stel.
Die Badisa span moes omtrent bontstaan soos wat die leerders hulle bestorm het en drukkies wou uitdeel.
Die bekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Jak de Priester, het saam met Badisa gewerk aan 'n liedjie wat spesiaal geskryf is vir die Kuumba Sorg inisiatief om Kuumba se boodskap te versterk.
Die boodskap van die liedjie, Jy is Special, is eenvoudig, maar kragtig: Elke kind verdien dit om raakgesien en waardeer te word, asook om met liefde versorg te word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’