HEIDELBERG NUUS - Met die oog op die komende Eden departement van sport, kuns en kultuur (DSKK) se Dramafees is dit goed om te sien dat die dorp en streek se suksesvolle akteurs en sepiesterre, Maurice Paige en Theodore Jantjies en nog 'n plaaslike opkomende akteur, William 'Willy' Michaels, hul dienste aanbied om die vele aspirantakteurs en dramaturge met die fynere kunsies van hul beroep te bemagtig.
Die trio, Jantjies, van 7de Laan en Suidooster, Paige van Isidingo, Suidooster en Kelders van Geheime, en Michaels, plaaslike akteur, skrywer en regisseur is almal oudleerders van Kairos en het onder die waaksame oog van Annelene Hartnick, afgetrede opvoeder, wyksraadslid en gemeenskapsaktivis, hul merk as aspirante akteurs gemaak.
Hartnick het die slypskool gereël.
Die streek se dramatalent is Saterdag 18 April nuwe lewe ingeblaas toe die drie spogprodukte van dié dorp, aan ongeveer 50 leerders van Kairos Sekondêr, Hoërskool Heidelberg asook Gerrit du Plessis deeglike opleiding in verskeie teatervaardighede verskaf het.
Die opleiding het vanaf 09:00 tot 15:00 by De Waalville Primêr se skoolsaal geduur.
Die interaktiewe program is deurgaans deur al drie aangebied en was 'n behoorlike leerskool vir almal wat deelgeneem het.
Die dag het ook gefokus op kernvaardighede soos jou waardes, deeglike voorbereiding, lees met begrip, fokus, ensemble en spanwerk, doelgerigte spraak, om jou karakter in jou lyf te sit, die bou van 'n plek deur verbeelding, asook die betekenis van jou naam en identiteit.
"Die leerders, is emosioneel, fisies en tegnies uitgedaag," het Hartnick baie tevrede benadruk.
Volgens Hansie Snyman, opvoeder by Hoërskool Heidelberg, het hierdie waardevolle ervaring hul leerders met die nodige selfvertroue, kreatiwiteit en nuwe perspektief vir die verhoog bemagtig.
Die dag is met Gerrit du Plessis-dramagroep se produksie, waarmee hulle verlede jaar tot in die eindronde deurgedring het, afgesluit.
Al drie skole het vir die komende Dramafees ingeskryf.
Ter afsluiting het Hartnick deernisvol benadruk dat die opleiding moontlik gemaak is deur Hessequa-munisipaliteit se departement van sosiale en jeugontwikkeling.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’