Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - Arthur Abrahamse (44) wat sedert 1994 'n kwadrupleeg is, het 'n goue medalje met die Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) in George gewen.
Dit was 'n eerste vir hom om aan dié wedstryd wat Sondag 18 Februarie plaasgevind het, deel te neem.
Hy het vir die 21 km ingeskryf en nie verwag dat hy so goed sal presteer nie. OCC is op die oomblik een van die grootste rolstoel- en handrolstoelwedrenne in Suid-Afrika.
Abrahamse woon en werk by Huis Wallace Anderson vandat hy 'n kwadrupleeg is.
Hy het gesê: "Die afsnytyd vir die 21 km was drie ure. Ek het net rustig gery en wou ten minste binne die beperkte tyd die wedren voltooi.
"Ek het nie baie verwag nie, veral omdat ek nie gery het om te wen nie." Hy voltooi die wedren in minder as twee ure, wat hom 'n eerste plek in sy klas verseker het.
Abrahamse was 18 jaar oud toe hy sy nek tydens 'n rugbywedstryd gebreek het. Hy het op daardie stadium vir HTS Bellville se eerste rugbyspan gespeel.
"Ek het flank gespeel, maar omdat ons haker seergekry het, het ek sy posisie gevul. Tydens 'n skrum het my nek verkeerd gedraai.
"Daar was 'n kraakgeluid, maar ek het gedink dat dit my skouer is omdat ek dit al voorheen beseer het. Nadat die skrum opgebreek het, het ek net bly lê. Ek kon niks beweeg nie.
"In die hospitaal het ek vir die dokter gesê hy kan my mos regmaak.
"Alles verander. Jou lewe lê nog voor en alles is in 'n sekonde weggevat. Jou onafhanklikheid, drome, toekoms alles. Mens gaan deur verskillende stadiums.
Jy leer om daarmee saam te leef, maar jy sal dit nooit aanvaar nie."
Kyk 'n video hieronder:
Die rugbystewels wat hy gedra het tydens die wedstryd waarin hy seergekry het, staan op 'n rakkie uitgestal in sy kamer. Hy het ook nog die no. 7 trui.
Hy moes sewe maande in die hospitaal deurbring, waarvan hy vir 'n maand lank doodstil op sy rug moes lê. Nadat die swelsel gesak het, kon dokters eers vasstel wat die skade is.
Soos die swelsel sak, kom die gevoel terug. "Jy weet nie waar die gevoel oral gaan terugkom nie. Dit is soos 'n verrassingspakkie wat jy kry."
Omdat hy so lief vir sport is, het hy besluit om met 'n handrolstoel te begin oefen en aan wedrenne deel te neem.
Hy lê plat in sy stoel en gebruik slegs sy hande om die handvatsels te draai, wat dan die ketting en wiele laat draai.
Dié stoel is twee jaar gelede aan hom geskenk, maar hy kon dit nie gebruik nie omdat hy ernstig siek was. Hy het drie maande terug vir die OCC begin oefen.
"Ek ry elke tweede dag so 15 km. Jou kop moet reg wees om so-iets aan te pak. Dit hou my besig en ek geniet dit baie. Omdat ek ook moet werk, kry ek nie so baie tyd om te oefen soos diegene wat dit professioneel doen nie.
"Ek werk elke dag by Wallace Anderson. Hier ondersteun ons mekaar en elkeen verstaan die ander een se stryd."
Hoewel hy met tye voel asof hy nie goed genoeg is nie, rig hy reeds vir 12 jaar rugy by die Hoër Landbouskool Oakdale af.
"Dit gee my 'n rede om op te staan in die oggend. Dit is vir my 'n eer om daar te werk."
'n Ander stokperdjie wat hy geniet is om model afstandbeheer vliegtuie te vlieg.
Hy wil oefen om volgende jaar aan die Cape Town Cycle Tour deel te neem en wil sodoende geld vir huis Wallace Anderson insamel.
Hy bedank almal by dié huis vir hul ondersteuning en dat hulle in hom glo.
Abrahamse benodig tans borge om te help om sy fiets te onderhou en op te gradeer.
Indien jy kan help, skakel hom by 084 858 5731.
Lees 'n vorige artikel: Plaaslike kwadrupleeg rol goue los
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'