SLANGRIVIER NUUS - Hein Hoogbaard (43), bekende inwoner van Slangrivier en ambulansman van beroep het Maandagoggend, 3 Augustus in Riversdal-hospitaal gesterf na hy Sondagoggend net na 01:00 ’n beroerte-aanval gehad het.
Volgens sy bedroefde vrou, Hendrina is hy hospitaal toe gehaas, waar hy later die dag nog ’n beroerte gehad het.
Hein het Saterdagoggend op Facebook genoem dat hy ‘n positiewe Covid-19 uitslag van sy toets ontvang het.
Hein het menige mense se lewe gered en gemaklik gemaak deur sy vinnige en onbaatsugtige optrede. Hy was ’n groot sportliefhebber en geesdriftige Stormers-ondersteuner. Sy ander liefde was krieket en het hy weer die sport in die dorp laat herleef met die stigting van van die plaaslike krieketklub. Hy was die seun van een van Slangrivier se groot leiers, wyle Ohnel Hoogbaard, onderwyser en voormalige raadslid van die dorp.
Die nuus van sy skielike afsterwe het soos ’n veldbrand versprei en mense het hulde aan hom op sosiale media gebring. Hilton Abrahams sê “Hein Hoogbaard, jy’s vandag op ’n beter plek as ons, jy het soveel lewens gered en verryk. Ek gaan jou rugby staaltjies baie mis, en ja, jy en ou Stoffie (’n ambulansman wat ’n paar jaar gelede gesterf het) kan nou jul rugbygesprekke verder voer. Rus sag, ou Valkie”.
Een van sy kollegas, Natalie Newman, sê “Rest easy, dear friend, safe in the arms of Jesus. You will be missed.”
Buiten sy vrou laat hy twee dogters, Estralita en Anastacia, ’n seun Leandro, asook ’n suster agter. Die begrafnisdiens vind Saterdagoggend vanuit die St Lukes Anglikaanse Kerk plaas. Die tyd is nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'