ALBERTINIA NUUS - Om openbare gesondheid en voedselveiligheid in Albertinia te beskerm, het omgewingsgesondheidspraktisyns van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) vandeesmaand 17 gesamentlike blitsoperasies uitgevoer waartydens spazawinkels in die dorp ondersoek is.
Die operasies is in samewerking met die polisie in Albertinia, die departement van binnelandse sake en Hessequa-munisipaliteit se wetstoepassing uitgevoer.
Tydens die inspeksies het beamptes onder meer gefokus op nakoming van Regulasie 638, wat strukturele en higiëne vereistes behels, asook Regulasie 146 wat voorsiening maak vir korrekte etikettering van produkte, insluitend Best before, Sell by en Use by-datums.
Produkbestanddele, beskadigde produkte en ander nie-voldoenende items is ook ondersoek.
Volgens Haemish Herwels, hoof van munisipale gesondheid by die TDM se Hessequa-subkantoor, was die doel van die operasie nie net om wetlike en gesondheidsvereistes af te dwing nie, maar ook om spazawinkeleienaars bewus te maak van regulasies en die belangrikheid van hoë higiëne standaarde om openbare gesondheid te beskerm.
Raadslid Jobieth Hoogbaard, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, het gesê die samewerking tussen die verskillende rolspelers het dit ook moontlik gemaak vir binnelandse sake, die polisie en Hessequa se wetstoepassing om hul regulatoriese pligte doeltreffend uit te voer.
Herwels het bygevoeg dat die TDM die volgehoue ondersteuning van hierdie departemente waardeer in pogings om die gesondheid en veiligheid van gemeenskappe te beskerm.
Die distriksmunisipaliteit het ook lede van die publiek bedank vir klagtes en inligting wat aan beamptes deurgegee word.
Volgens die TDM speel hierdie terugvoer ’n belangrike rol om probleemareas te identifiseer en gepas op te tree, selfs wanneer amptenare nie voortdurend op die grond teenwoordig is nie.
Inwoners in die Hessequa-streek kan ondernemings wat sonder ’n sertifikaat van aanvaarbaarheid bedryf word, of wat nie aan standaarde voldoen nie, by Haemish Herwels aanmeld by 083 678 6545 of per e-pos by [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’