ALBERTINIA NUUS - Wanneer gemeenskaps-organisasies saamstaan, kan merkwaardige dinge gebeur. Dit is presies wat op Saterdag 23 Mei in Albertinia gebeur het toe inwoners en verskeie organisasies hande gevat het om die dorp se ingang te verfraai.
Die inisiatief is deur die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) van stapel gestuur met die doel om die ingang na die dorp meer aantreklik en verwelkomend te maak.
Die Green Anglicans Movement, Albertinia Rangers-rugbyklub, Working on Fire, Oker Primêr, St. Luke's-gemeente en lede van die plaaslike gemeenskap het saam met die GCBR aan die projek deelgeneem.
Sowat 50 mense het opgedaag en binne slegs twee uur daarin geslaag om 35 bome en 180 plante te plant.
Die projek is nie net 'n belegging in die dorp se voorkoms nie, maar ook in sy toekoms.
Die bome wat geplant is, sal oor die jare heen skadu, skoonheid en omgewingsvoordele bied waarvan toekomstige geslagte sal kan geniet.
Die dag het ook gewys wat moontlik is wanneer inwoners self verantwoordelikheid neem vir die verbetering van hul omgewing.
Gemeenskapsbetrokkenheid van hierdie aard help om die las op plaaslike owerhede te verlig en versterk die trots wat inwoners in hul dorp ervaar.
Die dorpe van Hessequa is bevoorreg om die GCBR en sy personeel in hulle midde te hê om inisiatiewe soos hierdie 'n werklikheid te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’