HEIDELBERG NUUS - Die afgetrede polisielid wat Vrydagmiddag, 26 Julie, by sy huis in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandagoggend, 29 Julie, in die plaaslike landdroshof op vier aanklagte verskyn.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die samewerking deur die Wes-Kaapse Provinsiale Kommersiële Misdaadondersoeke, die Wes-Kaapse Mobiliteitsdepartement en provinsiale verkeer gelei tot die arrestasie van twee verdagtes in Vredenburg en Heidelberg op aanklagte van bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie asook 'n aanklag van regsverydeling.
Hul arrestasie spruit uit 'n ondersoek na padwaardige sertifikate vir swaarvoertuie wat op verskeie plekke uitgereik is.
"Die afneemoperasie het Donderdag 25 Julie begin met die arrestasie van 'n 40-jarige man in Vredenburg en 'n 63-jarige man in Heidelberg Vrydag 26 Julie," aldus Spies.
Beide verdagtes bly in Worcester en Barrydale in aanhouding.
Die ondersoek duur voort. Meer arrestasies in die Wes-Kaap asook ander provinsies word verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’