Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Dr Andre Hattingh, stigter en uitvoerende hoof van Pediatric Care Africa, is vanoggend deur George op 'n motorfietstoer van 7 000 km deur Suid-Afrika om geld in te samel vir kinders wat mediese sorg en operasies nodig het, maar wat die nie kan beskostig nie.
Hattingh het van Mosselbaai af deurgery na George, vergesel van 'n klompie plaaslike ryers en onder begeleiding van voertuie van die Outeniqua-buurtwag.
FOTOGALERY: Afgetrede neurochirurg ry 7 000 km vir 'n goeie doel
'n Paar George-ryers het by die Sasol-vulstasie by Kraaibosch by hulle aangesluit om saam te ry tot by Stormsrivier in die Tsitsikamma.
Hattingh, 'n afgetrede neurochirurg, noem sy motorfietstoer 'Ride for a Child'. Hy al het ongeveer 4 000km afgelê sedert hy op 12 Februarie in Witrivier, Mpumalanga weggetrek het waar hy beoog om op 4 Maart weer terug te wees. Dit is die vierde jaar wat hy die rit onderneem om bewusmaking te skep van die nood vir mediese hulp onder arm kinders.
Die idee het in 1994 by hom posgevat toe hy tydens die volksmoord in Rwanda mediese hulp gaan verleen het. "Ongeveer 16 000 kinders is vermoor en sewe of agt keer meer het beserings opgedoen. Niemand het daardie kinders gehelp nie. Ek het daar 'n die gedagte gekry dat ek kinders wil help."
Na sy aftrede het hy met sy vrou, Joyce se hulp hierdie belofte begin nakom deur die stigting van Pediatric Care Africa in 2017.
Vanjaar is sy doel om genoeg geld in te samel vir ten minste 45 operasies, 1 000 besoeke aan 'n algemene praktisyn en 400 besoeke aan 'n spesialis.
Hy sê hulle kry oproepe van weeshuise, skole, kerke en dokters wat kinders verwys. Ma's kontak hulle ook. "Die Covid-pandemie het die nood vererger. Ek wil net vir kinders 'n kans gee. 'n Kind het net 'n bietjie liefde en 'n kans in die lewe nodig, en as hy gesond is, het hy 'n kans."
Hulle soek 'n spesialis en algemene praktisyn of algemene chirurg in George wat sal help met twee operasies per jaar hier plaaslik.
Hattingh sê hy kry goeie ondersteuning langs die pad. Mense kan donasies in 'n donasieboksie gooi of hulle kan Hattingh per kilometer borg, of net 'n gewone donasie maak. Nog 'n bron van donasies is kentekens wat motorfietsryers koop wanneer hulle hom vir 'n ent op sy rit vergesel.
Vir meer inligting oor Pediatric Care Africa of om 'n donasie te maak, skakel 076 229 5663.
VERSKAFTE VIDEO (Video: Pediatric Care Africa) :
VIDEO - Dr Andre Hattingh ry om geld in te samel (Video: Alida De Beer).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'