STILBAAI NUUS - Dis min mense wat die voorreg het om 'n baie hoë ouderdom agter hulle naam te kan skryf, maar Nettie van Schalkwyk van Huis Stilbaai het hierdie groot mylpaal op Maandag, 7 Maart met haar 99ste verjaardag bereik.
Hierdie formidabele vrou het op Albertinia grootgeword en later by Riversdal-hospitaal gewerk.
Na haar troue het sy en haar man, Hansie, die winkel en kwekery op Botterkloof bedryf. Die winkel was langs die pad tussen die N2 en Stilbaai, by die afdraai na Riverside-karavaanpark.
Produkte van die omliggende plase kon by die winkel geruil word vir huishoudelike benodigdhede. Lewendehawe soos hoenders en kalkoene, plaasprodukte, botter, eiers, volstruiseiers uit Blombos-gebied en selfs rolletjies twak is vir kruideniersware geruil.
Materiaal vir kombersoortreksels, voorskote en klerasie wat te koop was het in 'n ander groot behoefte van die omgewing voldoen.
Tant Nettie het behalwe die winkel, ook die poskantoor-agentskap hanteer, 26 pensioenboekies uitbetaal en hulle eie petrolpomp beman. Na 'n inbraak en diefstal by haar winkel wat baie traumaties was, het sy besluit om die winkel waar sy so gelukkig was te verkoop. Dit het vir haar te gevaarlik geword om alles so alleen te behartig.
Volgens haar dogter Susan is tant Nettie se hoë ouderdom in haar gene en is die familie geseënd om haar nog saam met hulle te hê.
Lees vorige artikel:
'Ons bring jou die nuuste Stilbaai, Hessequa nuus'