HEIDELBERG NUUS - Marion Cronjé van Burnstraat op Heidelberg het Maandag 20 Januarie haar 90ste verjaarsdag herdenk.
Sy het die mylpaal Saterdag 25 Januarie saam met haar vier seuns, drie dogters, 24 kleinkinders en 15 agterkleinkinders, ander familielede, vriende, bure en gemeentelede gevier.
Alfred Cronjé, haar eggenoot van 60 jaar, het haar reeds in 2012 ontval.
Ant Marion, soos sy bekend is, is die enigste oorlewende kind van Isak en Louisa Roberts.
Roberts was destyds die eerste bruin man wat 'n slaghuis en winkel op die dorp gehad het.
Sy is versot op lees. Naas die Bybel is die Suid-Kaap Forum en Rapport haar gunsteling koerante en Kuier en Huisgenoot haar gunsteling tydskrifte.
Ant Marion is lief vir haar Skepper en woon nog gereeld kerkdienste in St. Barnabas Anglikaanse Kerk by, waar sy ook vir 30 jaar in die kerkkoor gesing het. Sy was ook lid van die Moedersunie.
Een van haar noemenswaardigste bydraes tot die kerk was dat sy vir so min as R10 die versorging van die kerklinne en items wat met Brasso blikgevryf moes word 29 jaar lank gedoen het. Sy is inderdaad 'n vrou wat die Here getrou dien, 'n vrou waarna Spreuke 31 verwys.
Sy is al 'n paar keer as Glamorous Granny gekroon. Sy was op haar dag 'n aktrise van faam wat saam met haar neef, Goliath Davids, in verskeie toneelstukke opgetree het.
Sy was ook 'n tuinier van formaat wat steeds toesien dat geplant en geoes word. Sy herwin gebruikte water om haar groente- en vrugtetuin mee nat te lei en sy deel graag haar oeste met minderbevoorregtes.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'