Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Drie avontuurlustige manne is van plan om binne 80 dae rondom Suid-Afrika met 'n Toyota Land Cruiser te reis.
Hulle het Sondag, 18 April by Jongensfontein aangedoen met bykans 4 000km reeds agter die blad, waarvan ongeveer 2 500 tot 3 000km nog afgelê moet word.
Thomas Schlotfeldt en Robbie Elske van Rustenburg, asook Henning Joubert van Stilbaai het op 5 April weggetrek met 'n paar doelwitte voor oë, waaronder een van die belangrikstes vir hom is om hoop te bring.
"Suid-Afrika is deur 'n moeilike tyd met die Covid-19-inperking met baie uitdagings. Die mense moenie moed opgee nie, maar positief bly. Ons land het soveel mooi plekke en dis 'n voorreg om daardeur te kan ry en hier te bly," het Schlotfeldt aan Suid-Kaap Forum gesê. "Ons het 'n spreekwoord wat sê: 'Ons leef nie in 'n gees van vrees nie, maar 'n gees van hoop. En met daardie gees van hoop wil ons deur Suid-Afrika ry en vir die mense hoop bring, musiek maak en sommer net lekker dinge wys." Hulle ondersteun ook drie organisasies met 'n fondsinsameling: Hospice, 'n tehuis in Kroondal en Laerskool Rustenburg.
Kyk 'n video hieronder:
Die roete
Vertrek vanaf Brauhaus Afrika in Rustenburg; begin by die Botswana-grens na Zimbabwe-grens, deur die Kruger Wildtuin, Komatipoort al langs die Mosambiekgrens, Barberton, Piet Retief tot by die kus van St Lucia, al langs die Swaziland-grens en met die ooskus na die suidkus deur Transkei en daarvandaan tot na die Kaap.
Vanaf Jongensfontein na Cape Agulhas, daarvandaan na Paternoster met die weskus op en met die Richtersveld af tot in die suidekant van die Richtersveld na die Bothswana-grens na Van Zylsrus en eindelik met 'n grondpad terug na Rustenburg.
Vorige artikel: Meer as 'n avontuur
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'