Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Altesaam 4 174 leerders in dorpe in Hessequa en die Ladismith-omgewing van die Klein-Karoo het Woensdag 8 en Donderdag 9 April kos by skole ontvang.
Die kosgeeprojek vorm deel van die Wes-Kaapse onderwysdepartement se noodvoedingsprojek, waarvoor R52 miljoen opsygesit is.
Gedurende die skooltermyn ontvang 6 062 leerders daagliks kos by skole in Kring 1 van die departement se Eden- en Sentrale-Karoo onderwysdistrik. Dit sluit skole in dorpe in Hessequa, Ladismith, Zoar en Hoeko in.
Ouers van die leerders is vooraf per WhatsApp in kennis gestel dat kos by die skole beskikbaar sal wees. Woensdag het 2 170 leerders, netjies in skooldrag geklee op Riversdal by die primêre skole Panorama en Voorwaarts kos ontvang. Leerders van Gerrit du Plessis Senior Sekondêr is ook hierby ingesluit.
Novo, buite die dorp is ook van kos voorsien.
In Heidelberg is kos by De Waalville en Slangrivier Primêr, in Albertinia by Oker Primêr, asook in Bitouville by Gouritsmond beskikbaar gemaak.
In die Klein-Karoo is kos wat by Ladismith Sekondêr voorberei is, by die skool, asook by Towerkop, Amaliënstein, Zoar en Hoeko uitgedeel. Donderdag het nog 2 004 leerders kos by die skole gaan haal.
Een van die grootste uitdagings wat ook op sosiale media geopper is, was die moontlikheid dat die koronavirus (Covid-19) deur noue kontak tussen die kinders oorgedra sal word. Die skoolhoofde, onderwysers en nooddienspersoneel het sekergemaak die kinders hou ’n afstand van ten minste 1,5 m tussen hulle.
Kyk 'n video hieronder:
Dissipline
Die leerders het buite die skoolterrein in lang rye gestaan en wag tot dit hulle beurt was om vorentoe te beweeg. Hul handjies is by die skoolhekke gereinig voor hulle die terrein betree het. Register is gehou van almal wat opgedaag het. By die kombuis het elkeen bakkie kos ontvang waarmee hulle reguit huis toe is.
“Ek het probeer om die skole so te groepeer dat dit so na as moontlik aan die kinders se woonplekke is,” sê Mias du Plessis, kringbestuurder.
“Dis ’n provinsiale projek, maar ek is ongelooflik dankbaar teenoor die polisiediens en ander wetstoepassers, Eden-gesondheid, die skoolhoofde, personeellede en kokke, ouers, lede van bestuursliggame en ander vrywilligers wat by die skole gehelp het. Dit het baie goed verloop. Die nodige afstand tussen die leerders is gehandhaaf en almal was net so dankbaar en hulpvaardig.”
Koos Eksteen, bestuurder van Kring 8 (George), wat op die dorp woon en by Panorama ingeloer het: “Ek is baie beïndruk deur die kinders se dissipline.”
Mnr. Jacob Kellies, Panorama se hoof: “Ek is baie dankbaar vir almal wat kom help het. Die kinders is kwesbaar en ons moet alles doen om hulle sterk te hou.”
Mev. Crystal Pietersen-Grootboom, hoof van Voorwaarts: “Ek is dankbaar vir die Here dat ons die kinders kan kosgee. Die meeste ouers leef onder die broodlyn en is afhanklik van sosiaal-maatskaplike hulp.”
“Ons kinders is honger,” sê Du Plessis. “Terwyl daar rondom ons al die geraas is oor of dit die regte ding is om te doen, bly die kinders die lydende party.”
Vorige artikel: Ons kinders is honger
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'