Update
HESSEQUA NUUS - Drie verdagtes is by vermeende dwelmhandelaars se wonings op Riversdal in hegtenis geneem tydens 'n klopjag deur die Da Gamaskopstreek-polisie op Vrydag 31 Mei nadat hulle op 'n groot bedrag kontant en tik beslag gelê het.
Twee mans en 'n vrou is in Aloeridge met die kontant en dwelms betrap.
Die operasie, onder leiding van kapt. Mervyn Zana, waarnemende stasiebevelvoerder op Heidelberg en kapt. Yolandé January, Vispol-hoof: Riversdal-polisie is met lede van verskeie polisiestasies van oor die streek, asook lede van die openbare-orde-polisiëring (Pops) geloods.
Volgens ao. Alroy Windvogel, Heidelberg-polisie se mediaskakelbeampte was 25 lede by die operasie betrokke, waarvan 16 van Heidelberg was.
Die ander was van Albertinia, Barrydale, Suurbraak, Swellendam, Riversdal, Stilbaai en George.
Volgens Windvogel is R11 510 kontant, 217 tikstrooitjies en 25 gram los tik op die perseel gevind.
Die verdagtes het in die hof op Riversdal verskyn en gewaarsku om in die hof te wees sodra die ontledingstoetse op die dwelms voltooi is; in welke geval hulle weer deur die hof gelas sal word om te verskyn.
'n Beroep word op alle inwoners in die streek gedoen om nie met dwelms te smous nie. "Enigiemand met inligting oor enige misdaad, wat dwelmsmousery insluit, moet dadelik met hul naaste polisiestasie in verbinding tree. Daar gaan gereeld en streng teen dwelmsmokkelaars opgetree word," waarsku Windvogel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
’n Deel van die 217 tikstrooitjies wat gevind is.
Lees 'n vorige artikel hier: 3 Vermeende dwelmsmouse gearresteer
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'