HEIDELBERG NUUS - Twee vermeende motordiewe is na 'n wenk deur lede van die plaaslike polisie op die N2 vasgetrek.
Die motor wat in hul besit was, is blykbaar vroeër iewers in Rondebosch, Kaapstad gesteel. 'n 33-jarige man en 29-jarige vrou, vermoedelik van Kaapstad, is deur konstabels Carlet September en Keanan Fredericks, lede van die C-skof onder leiding van ao. Jaco Louwrens, gearresteer.
Ao. Alroy Windvogel, plaaslike mediawoordvoerder noem dat daar vermoed word dat dié twee deel van 'n sindikaat is wat spesialiseer in motordiefstalle, asook inbrake by persele.
"Volgens ao. Hein Liebenberg van die George-voertuigdiefstaleenheid is daar die afgelope paar weke sowat 30 voertuie in die Rondebosch-distrik gesteel."
Die verdagtes was glo op pad na Mthatha. Windvogel het bygevoeg dat verskeie elektroniese beheerafstand-apparate in die motor gevind is. Die motor was ook voorsien van 'n vals nommerplaat en lisensieskyfie.
Hulle het Maandag 15 Oktober in die hof verskyn. Volgens Windvogel sou die staat enige poging om borgtog te verkry, teenstaan.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'