Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS - Eindelik het die groot dag op Maandag, 1 November na vyf jaar weer aangebreek en geregistreerde kiesers in die Hessequa-streek het hul kruisie agter die Demokratiese Alliansie getrek.
Kiesers het drie stembriewe gekry: vir 'n wykskandidaat, plaaslike munisipaliteit en die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
By meeste van die stemlokale in die streek het sake sonder ernstige voorval begin. Van die eerste kiesers by Stilbaai-gemeenskapsaal wat reeds voor 07:00 opgedaag het wanneer die stemlokale moes open, was egter omgekrap omdat die saal nog nie heeltemal in gereedheid was nie en hulle tot 07:42 moes wag.
Hoewel dit lekker sonnige weer tot bykans vroegmiddag was, het sake vinnig verander. Suid-Kaap Forum het berigte van oral in die streek ontvang van erge wind en harde reën, wat met tye opgeklaar het, maar later weer uitgesak het.
Die gure weer het waarskynlik 'n invloed gehad op die stempersentasies regoor die streek, omdat dit heelwat laer is as met die vorige verkiesing in 2019. Teen 13:30 was die stempersentasie in die Wes-Kaap maar slegs 13.7%, terwyl die res van die land nie veel beter vertoon het nie, met Mpumalanga die laagste op 12.8% en die Noordkaap die hoogste met 16.3%.
Volgens lt kol Delicia Isaacs, stasiebevelvoerder van Riversdal-polisie, was geen onaangename voorvalle aangemeld nie. "Dit blyk dat almal net lekker gesellig was." Die ander polisiestasies in die streek het ook bevestig dat daar nie voorvalle by die stemlokale was nie en het die verkiesing vreedsaam verloop.
VIDEO: DA wen met meerderheidstem in Hessequa
Sake het so by die stembusse verloop
Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Hessequa-streek is vir die volgende vyf jaar die leidende party met 'n meerderheidstem van 50.19%.
20 988 kiesers het hul kruisie agter die DA se naam gaan trek volgens die uitslae op die Onafhanklike Verkiesings Komitee (OVK) se webtuiste.
Die tweede sterkste party in die streek, die ANC het daarin geslaag om 34.8% stemme in te oes en die VF+ het 7.71% gekry.
Die DA het ses uit die nege wyke gewen (wyke 1-4, 7 en 9). Die ANC het die ander drie wyke gewen (wyke 5, 6 en 8). Wyke 2 en 7 was in die vorige termyn ANC-wyke wat die DA by hulle afgeneem het.
Die raad bestaan uit 17 setels, dus het die OVK bereken hoe die ander agt toegeken word.
Setels
- Party: DA 9, ANC 6, VF+ 1 en Patriotic Alliance (PA) 1.
- Proporsioneel: DA 3, ANC 3, VF+ 1 en die PA 1.
Die volledige uitslae van die 2021 munisipale verkiesing op 1 November in die Hessequa-streek soos dit op die OVK se webtuiste verskyn.
By die Duivenhoks-gemeenskapsaal het lang rye kiesers gewag om hul kruisie te trek. Hierdie foto is ongeveer 11:27 geneem. Foto: Clive Pretorius
VORIGE ARTIKEL: DA wen met meerderheidstem in Hessequa
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'