RIVERSDAL NUUS - As daar een ding is wat die lede van die Sleeping Beauty Kwiltersklub sedert 2002 in gemeen het, is dit hul liefde vir 'n mooi stukkie katoenlap en die kreatiwiteit waarmee hulle dit in kunswerke omskep.
Op 15 Oktober was dit weer die geval toe lede bymekaar gekom het om idees uit te ruil en oor die afgelope maand se gebeure te gesels.
Anneke Harris het haar geloofsreis met die lede gedeel. Sy het vertel hoe belangrik dit is om God in alle omstandighede te onthou, in goeie sowel as moeilike tye.
Die kwilters gebruik ook hul naaldwerkvaardighede om verskeie liefdadigheidsprojekte te ondersteun, waaronder Little Quilts of Love, Project4Preemies, Goukam Health en Hessequa Versorgers.
Sonette Burger, voorsitter van die klub, het trots vertel dat hulle weer ’n paar baadjies wat die lede spesiaal vir premature babas maak, ontvang het.
Die baadjies word aan Little Quilts of Love gegee om aan hospitale te versprei waar dit benodig word.
Die baadjies word van sagte flennielap gemaak en het strikkies op spesifieke plekke wat dit makliker maak om die mediese buise en pypies waaraan die babas gekoppel is, te hanteer.
Marlien Volschenk het vir die lede gewys hoe om die binding van ’n kwilt af te werk as die laaste stap wat die rande netjies afrond.
Die klub het onlangs ook ’n uitstalling by die Harmoniefees op Heidelberg gehou.
Dit was ’n groot sukses, en die lede is genooi om volgende jaar weer saam met ander kwilters uit die Hessequa-omgewing deel te neem.
Van mooi kwilte tot klein baadjies vir vroeggebore babas, die Sleeping Beauty Kwilters deel nie net hul liefde vir naaldwerk nie, maar gebruik ook hul vaardighede om ander te help.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’