STILBAAI NUUS - Na baie jare se onbaatsugtige diens het dr. Deon Begemann besluit om halt te roep as bestuurslid van die Stilbaai-bewaringstrust.
Hy sê dat sy druk persoonlike program hom noodsaak om hierdie stap te neem en daar is genoeg bevoegde lede op die bestuur om sy rol as voorsitter oor te neem.
Begemann is op 27 Januarie 2016 as bestuurslid verkies en op 28 Desember 2019 het hy die voorsitterstoel ingeneem.
Hy was dus 10 jaar op die bestuur, waarvan vyf jaar as voorsitter.
Deon Begemann het homself bekwaam as entomoloog, het by Onderstepoort as veterinêre entomoloog gewerk en was daarna vir 33 jaar in die sitrusbedryf betrokke voordat hy en sy vrou, Ronelle, in Stilbaai afgetree het.
Sy doktorsgraad in geïntegreerde plaagbeheer het hy in 1998 aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Van entomoloog na bewaring is 'n groot sprong, maar Begemann het dit met groot sukses gedoen.
Van die hoogtepunte tydens sy dienstydperk by die bewaringstrust:
• Die teken van kaarte om al vyf wandelroetes in Stilbaai en Jongensfontein aan te dui.
• Die reël van staptogte.
• Plaas van borde langs provinsiale paaie om diere te beskerm.
• Registrasie van die bewaringstrust by Kaapse Erfenis as bewaringsliggaam.
• Die organisering van wynproe-geleenthede.
• Aanbring van plantname in die museumtuin.
• Die restourasie van die muilhuis-museum en eerste blouplaat op Stilbaai.
• Opknapping van die ingang na die Pauline Bohnen-natuurreservaat.
• Tuin by die dam 2020-2021 tydens Covid.
• Stigting van 'n kapgroep op 17 Augustus 2019 om indringer-plante uit te roei.
• Ontvang oorkonde van Hessequa-munisipaliteit vir natuurbestuur.
• Die skep van 3,8 km se voetpaad-jies op erf 657 oorkant die gemeenskapsaal.
• Oprigting van 'n inligtingsbord om die steentjie in die see te verduidelik.
• Digitalisering van Pauline Bohnen se eerste boek, wat Africana is.
• Die bewaring van die geskied-kundige kerkhorlosie.
• Aanbring van borde by alle uitstallings in die museum.
• Die daarstel van die ou skooltjie as lesingkamer.
• Deelname aan die jaarlikse Stilbaai Ekspo.
Begemann se passie vir bewaring sal hom verseker nog vir baie lank betrokke hou.
Sy kennis en insig is van onskatbare waarde vir die hele Stilbaai-omgewing se bewaringsaksies, maar hy laat 'n bekwame bestuur na om hierdie belangrike taak vorentoe te vat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’