Video
HEIDELBERG NUUS - Brandbestryders van oor die Hessequa-streek, die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, asook Natuurbewaring by Grootvadersbosch, het sedert vroeër vanmiddag saamgespan om ’n veldbrand net buite Heidelberg en Suurbraak onder beheer te bring.
Met Suid-Kaap Forum se aankoms op die toneel by ’n ingang na Grootvadersbosch en die bekende Honeywood-plaas, was daar verskeie rolspelers teenwoordig, waaronder boere van naburige plase.
Volgens ’n inwoner van ’n huis wat die risiko geloop het dat die brand in die kloof hul woning sou bedreig, het sy saam met haar twee honde in haar motor na veiligheid gevlug.
Haar eggenoot was volgens haar steeds saam met ander familielede op die terrein om brandbestryders te help om die vlamme te keer.
Die vrou wou nie op die toneel kommentaar aan die verslaggewer lewer nie.
Sy het wel bevestig dat sy later, ná konsultasie met haar man, kommentaar sal lewer.
Sy het ook baie angstig helpers en bystanders op die toneel versoek om nie die ingang na hul huis te versper nie.
Daar was ook ’n helikopter op die toneel wat honderde liters water uit ’n naburige plaasdam aangery het om die brand te help blus.
Na verneem word, is daar tot dusver geen skade aan vee of enige menslike verlies aangemeld nie.
Dan Dippenaar, brandweerhoof, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Meer inligting sal volg sodra dit beskikbaar is.
Video: Clive Pretorius
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’