RIVERSDAL NUUS - Die gemeenskap is hartseer na die afsterwe van 'n besonderse vrou, Marie Bronn.
Sy is op die ouderdom van 80 op 18 Maart oorlede. Sy was slegs een jaar en ses maande oud toe haar pa oorlede is en sy, haar ma en susters na Riversdal verhuis het.
Marie was 'n vrou van inbors. As erkenning vir haar werk in die gemeenskap ontvang sy in 1995 'n nasionale toekenning vir Vrou van die Jaar.
Die daarop volgende jaar word sy vereer tot Melville Jones Fellow en ontvang sy die prestigious, Lions internasionale goue skild as mees toegewyde maatskaplike- en gemeenskapswerker uit 70 lande.
Sy en ander vroue het aanvanklik uit 'n klein kombuisie in Parow etes aan minderbevoorregtes verskaf. Dit staan vandag nog as Meals-on-wheels bekend en Marie het dit ook op Riversdal begin.
As verpleegster het sy haar opleiding by Riversdal-hospitaal voltooi waar sy deur die matrone gesien is as iemand wat haar take elke dag as 'n plesier geag het. Haar geloof en spiritualiteit was wat haar gedefinieer het.
Dit was haar alles omvattende motief en fokus. Sy was 12 jaar oud toe sy in die Buffelsjagsrivier gedoop is.
Gawie en Marie is 12 Februarie 1957 getroud, uit hul huwelik is twee seuns, Marius en Francois gebore.
Haar passie om mense se lyding en swaarkry te verlig, het haar genoop om kos vir die siekes te voorsien. Sy het onder andere vrywillige diens vir welsynskampe gelewer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'