RIVERSDAL NUUS - Dié dorp is Vrydag 23 Maart geruk met die skielike heengaan van Boeta Lou (58) of mister Lawrence, soos hy bekend gestaan het. Wat sy dood so tragies maak, is die feit dat sy suster, Elizabeth Geldenhuys (Betta B), se begrafnis die volgende dag, Saterdag 24 Maart sou wees.
Volgens sy oudste seun, Duncan, is sy pa, 'n oudonderwyser, 'n paar maande gelede met longkanker gediagnoseer.
"My pa het die afgelope paar weke by my op Riversdal gebly en hy het Donderdag Heidelberg toe gegaan om by die familie te wees. Hy het egter Donderdagaand siek geword en is hospitaal toe geneem, waar hy behandel is en saam met my huis toe gekom het. Sy toestand het egter versleg en het hy Vrydagaand ongeveer 18:00 by my aan huis gesterf."
Hy was blykbaar baie gewild in die onderwyssektor vir sy rekenaarvaardighede. Hy was een van die eerste opvoeders wat die destydse skeidingspakket geneem het, maar het gereeld by De Waalville Primêr kort na sy uittrede uitgehelp.
Buiten Duncan laat hy nog 'n seun, Clarence, drie kleinkinders, drie susters en een broer agter. Begrafnisreëlings was teen spertyd nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'