SUIDERSTRAND NUUS - DIé Koos van der Merwe is nie sommer 'ou Van' nie. Hy is: Koos van die Waterberge.
Die Koos wat hom al die pad van Nylstroom - deesdae Modimolle - in Suiderstrand in die Overberg kom staan maak het.
Koos was en is ‘n boer. En dan is daar Koos van der Merwe, die skrywer.
Hy het al meer as 100 briewe in Afrikaanse koerante die lig laat sien en nou is dit vervat in ‘n bundel en pas gepubliseer onder die titel,Van ‘n afstand af.
Hy behartig ook ‘n rubriek vir die nuwe Afrikaanse koerant, Die Papier.
Koos van der Merwe is nie net ‘n man met ‘n meestersgraad en ‘n intieme kennis van die Zoeloes nie - een van sy hoofvakke was immers Zoeloe - hy het ook ‘n rol gespeel in die samestelling van die nuwe grondwet en die onderhandelinge voor die 1994-verkiesing.
Maar, ek sal Koos van die Waterberge eerder ‘n produk van ons tyd wil noem: ‘n moderne Renaissanceman met sy voete geanker in die tyd toe formidabele manne en vroue begin het met hul reis na ‘n politieke stelsel wat ons vandag demokrasie noem.
En hy praat oor ‘n vraag op almal se lippe: "Word die Westerse demokrasie bedreig?"
Koos is die gasspreker by die Agulhas Erfenis- en Bewaringsvereniging se maandelikse saamtrek in die Heemhuis in L'Agulhas.
Hy gaan haal die storie ver - by die Grieke, met hul wysgere soos Plato, Socrates en Aristoteles - die reuse van weleer wat begin filosofeer het oor ‘n tipe regeringsbestel wat ondanks gebreke aan die deursneë landburger tóg ‘n mate van inspraak en verteenwoordiging in politieke besluitneming sou kon gee.
Dan word sy gehoor blootgestel aan ‘n verdere stappie in die evolusie van demokrasie: die Romeine met hul senaat.
Hy trek sy betoog deur na die eeu van verligting; dan die aartskuddende rewolusie in Frankryk - ja, Frankryk met sy Rousseau, Voltaire en Descartes. En Napoleon.
Wat die wêreld geleer het van Liberté, Égalité, Fraternité - daardie leuse wat met ‘n bietjie hulp van Lafayette en ander ook in Amerika posgevat het en indirek ‘n rol gespeel het in die Amerikaanse rewolusie, oftewel, hul onafhanklikheidsstryd.
Dit het met die Boston Teeparty begin en die slagspreuk "Belasting sonder verteenwoordiging is Dwingelandy!".
Kort daarna klap die eerste skote van die Republikeine teen die Rooibaadjies by ‘n plek met die naam Lexington.
En dan die Quantum-sprong: die Westerse supermoondhede kom na die Nuwe Wêreld.
Saam met hulle kom kolonialisme, slawerny en imperialisme - en daardie nuwe ding wat genoem word "demokrasie".

Uit die gehoor kom die byna onafwendbare vraag: "Is westerse demokratiese regeringsbeginsels versoenbaar met Afrika met sy stamverbande waar die hoofman se woord wet is?"
En inderdaad los voorsitter Danie Schutte ‘n bom: "Waar is die gees van Ubuntu in Suid-Afrika vandag?" wil hy weet. "Wat van nasionalisme?" vra 'n ander.
"Kan demokrasie werk in ‘n land met soveel uiteenlopende bevolkingsgroeperinge, twaalf tale en ‘n vuisvol etnosse? Hoekom is regse politiek soos vergestalt deur Frankryk se Marine Le Pen aan die groei? Hoekom het Donald Trump met sy Maga-kreet vir ‘n tweede keer aan bewind gekom? Hoe vergelyk demokrasie met outokrasie soos vergestalt deur diktators soos ‘n Hitler, ‘n Stalin en ‘n Mao Tsedung?" borrel die vrae na vore.
Maar die grootste historiese strydvraag van die bespreking het behoort aan Giel de Kock, geliefde kaalvoetgees van die Suidpunt: "Hoekom werk demokrasie nie werklik in Afrika nie?"
Koos van die Waterberge se bespreking en die reaksies wat dit uitgelok het in 2026 Anno Domini, sou beslis byval gevind het by die wysgere van die era van redelikheid.
En steeds soek ons antwoorde.
Wat die impak van Afrika-akkulturasie gaan wees - die invloed van verskillende kulture op mekaar in Afrika se lotsbestemming - sal net die tyd ons leer.
Pierre Massyn is ‘n skrywer, 'n Franse burger en oud-TV joernalis.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’